fbpx

Hoofstuk 13: finansies

Deel Op Sosiale Media

FINANSIES

Hoofstuk 13

 Algemene Finansiële Aangeleenthede

Nasionale Inkomstefonds

  1. (1) Daar is ʼn Nasionale Inkomstefonds, waarin alle geld gestort word wat deur die nasionale regering ontvang word, behalwe geld wat redelikerwys deur ʼn Parlementswet uitgesluit word.

(2) Geld kan uit die Nasionale Inkomstefonds onttrek word slegs–

(a) ingevolge ʼn bewilliging deur ʼn Parlementswet; of

(b) as ʼn regstreekse las teen die Nasionale Inkomstefonds, wanneer in die Grondwet of ʼn Parlementswet daarvoor voorsiening gemaak word.

(3) ‘n Provinsie se billike deel van die inkomste wat nasionaal ingevorder word, is ʼn regstreekse las teen die Nasionale Inkomstefonds.

[Datum van inwerkingtreding van a. 213: 1 Januarie 1998.]

Billike dele en toekennings van inkomste

  1. (1) ‘n Parlementswet moet voorsiening maak vir–

(a) die billike verdeling tussen die nasionale, die provinsiale en die plaaslike regeringsfeer van inkomste wat nasionaal ingevorder word;

(b) die bepaling van elke provinsie se billike deel van die provinsiale deel van daardie inkomste; en

(c) enige ander toekennings aan provinsies, plaaslike regering of munisipaliteite uit die nasionale regering se deel van daardie inkomste, en enige voorwaardes waarop daardie toekennings gedoen kan word.

(2) Die Wet genoem in subartikel (1) kan verorden word slegs nadat die provinsiale regerings, georganiseerde plaaslike regering en die Finansiële en Fiskale Kommissie geraadpleeg is en enige aanbevelings van die Kommissie oorweeg is, en moet die volgende in aanmerking neem–

(a) Die nasionale belang;

(b) enige voorsiening wat ten opsigte van die nasionale skuld en ander nasionale verpligtings gemaak moet word;

(c) die behoeftes en belange van die nasionale regering, wat volgens objektiewe maatstawwe bepaal word;

(d) die behoefte om te verseker dat die provinsies en munisipaliteite in staat is om basiese dienste te verskaf en die funksies te verrig wat aan hulle toegewys word;

(e) die fiskale vermoë en doeltreffendheid van die provinsies en munisipaliteite;

(f) ontwikkelings- en ander behoeftes van provinsies, plaaslike regering en munisipaliteite;

(g) ekonomiese ongelykhede binne en tussen die provinsies;

(h) verpligtings van die provinsies en munisipaliteite ingevolge nasionale wetgewing;

(i) die wenslikheid van bestendige en voorspelbare toekennings van inkomstedele; en

(j) die behoefte aan buigsaamheid in die hantering van noodgevalle of ander tydelike behoeftes, en ander faktore wat op soortgelyke objektiewe maatstawwe gebaseer is.

[Datum van inwerkingtreding van a. 214: 1 Januarie 1998.]

Nasionale, provinsiale en munisipale begrotings

  1. (1) Nasionale, provinsiale en munisipale begrotings en begrotingsprosesse moet deursigtigheid, verantwoordingspligtigheid en die doeltreffende finansiële bestuur van die ekonomie, skuld en die openbare sektor bevorder.

(2) Nasionale wetgewing moet voorskryf–

(a) wat die formaat van nasionale, provinsiale en munisipale begrotings moet wees;

(b) wanneer nasionale en provinsiale begrotings ter tafel gelê moet word; en

(c) dat begrotings in elke regeringsfeer die bronne van inkomste en die wyse waarop voorgestelde uitgawes aan nasionale wetgewing sal voldoen, moet aantoon.

(3) Begrotings in elke regeringsfeer moet–

(a) ramings van inkomste en uitgawes bevat waarin tussen kapitaaluitgawes en bedryfsuitgawes onderskei word;

(b) voorstelle bevat vir die finansiering van enige verwagte tekort vir die tydperk waarop die begrotings van toepassing is; en

(c) ʼn aanduiding bevat van voornemens wat betref lenings en ander vorms van openbare aanspreeklikheid wat in die daaropvolgende jaar die staatskuld sal verhoog.

[Datum van inwerkingtreding van a. 215: 1 Januarie 1998.]

Tesouriebeheer

  1. (1) Nasionale wetgewing moet ʼn nasionale tesourie instel en maatreëls voorskryf ten einde sowel deursigtigheid as beheer oor uitgawe in elke regeringsfeer te verseker deur die invoering van–

(a) algemeen erkende rekeningkundige praktyk;

(b) eenvormige uitgaweklassifikasies; en

(c) eenvormige tesourienorme en -standaarde.

(2) Die nasionale tesourie moet nakoming van die maatreëls ingestel ingevolge subartikel (1) afdwing, en kan die oordrag van fondse aan ʼn staatsorgaan staak indien daardie staatsorgaan ʼn ernstige of volgehoue wesenlike oortreding van daardie maatreëls begaan.

[Sub-a. (2) vervang by a. 5(a) van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

(3) ‘n Besluit om die oordrag van fondse te staak wat aan ʼn provinsie ingevolge artikel 214(1)(b) verskuldig is, mag slegs geneem word in die omstandighede in subartikel

(2) genoem, en–

(a) mag nie die oordrag van fondse vir langer as 120 dae staak nie; en

(b) kan onmiddellik afgedwing word, maar sal terugwerkend verval tensy die Parlement dit goedkeur ooreenkomstig ʼn proses wat wesenlik dieselfde is as dié ingevolge artikel 76(1) ingestel en deur die gesamentlike reëls en orders van die Parlement voorgeskryf. Hierdie proses moet binne 30 dae vanaf die nasionale tesourie se besluit afgehandel word.

[Sub-a. (3) gewysig by a. 5(b) van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

(4) Die Parlement kan ooreenkomstig die proses ingevolge subartikel (3) ingestel ʼn besluit om die oordrag van fondse te staak, vir hoogstens 120 dae op ʼn keer hernu.

(5) Voordat die Parlement ʼn besluit om die oordrag van fondse aan ʼn provinsie te staak, kan goedkeur of hernu–

(a) moet die Ouditeur-generaal aan die Parlement versla

(b) moet die provinsie ʼn geleentheid gebied word om voor ʼn komitee te antwoord op die aantygings teen hom en sy saak te stel.

Verkryging

  1. (1) Wanneer ʼn staatsorgaan in die nasionale, provinsiale of plaaslike regeringsfeer, of enige ander instelling in nasionale wetgewing geïdentifiseer, vir goedere of dienste kontrakteer, moet hy dit doen ooreenkomstig ʼn stelsel wat regverdig, billik, deursigtig, mededingend en kostedoeltreffend is.

(2) Subartikel (1) belet nie die staatsorgane of instellings in daardie subartikel genome om ʼn verkrygingsbeleid toe te pas wat voorsiening maak vir–

(a) voorkeurkategorieë by die toekenning van kontrakte nie; en

(b) die beskerming of vooruitgang van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is nie.

(3) Nasionale wetgewing moet ʼn raamwerk voorskryf waarbinne die beleid bedoel in subartikel (2) toegepas moet word.

[Sub-a. (3) vervang by a. 6 van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

Regeringswaarborge

  1. (1) Die nasionale regering, ʼn provinsiale regering of ʼn munisipaliteit kan ʼn lening waarborg slegs indien die waarborg voldoen aan voorwaardes wat in nasionale wetgewing uiteengesit word.

(2) Nasionale wetgewing genoem in subartikel (1) kan verorden word slegs nadat enige aanbevelings van die Finansiële en Fiskale Kommissie oorweeg is.

(3) Elke regering moet elke jaar ʼn verslag publiseer oor die waarborge wat hy verstrek het.

[Datum van inwerkingtreding van a. 218: 1 Januarie 1998.]

Besoldiging van persone wat openbare ampte beklee

  1. (1) ‘n Parlementswet moet ʼn raamwerk voorskryf vir die bepaling van–

(a) die salarisse, toelaes en voordele van lede van die Nasionale Vergadering, vaste afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies, lede van die Kabinet, Adjunkministers, tradisionele leiers en lede van enige rade van tradisionele leiers; en

(b) die boonste perke van die salarisse, toelaes of voordele van lede van provinsiale wetgewers, lede van Uitvoerende Rade en lede van Munisipale Rade van die verskillende kategorieë.

(2) Nasionale wetgewing moet ʼn onafhanklike kommissie instel om aanbevelings te doen oor die salarisse, toelaes en voordele in subartikel (1) genoem.

(3) Die Parlement kan die wetgewing genoem in subartikel (1) aanneem slegs na oorweging van enige aanbevelings van die kommissie ingevolge subartikel (2) ingestel.

(4) Die nasionale uitvoerende gesag, ʼn provinsiale uitvoerende gesag, ʼn munisipaliteit of enige ander tersaaklike gesag kan die nasionale wetgewing genoem in subartikel

(1) toepas slegs na oorweging van enige aanbevelings van die kommissie ingevolge subartikel (2) ingestel.

(5) Nasionale wetgewing moet raamwerke voorskryf vir die bepaling van die salarisse, toelaes en voordele van regters, die Openbare Beskermer, die Ouditeur-generaal en lede van enige kommissie waarvoor die Grondwet voorsiening maak, met inbegrip van die uitsaai-owerheid in artikel 192 genoem.

Finansiële en Fiskale Kommissie

Instelling en werksaamhede

  1. (1) Daar is ʼn Finansiële en Fiskale Kommissie vir die Republiek, wat aan die Parlement, provinsiale wetgewers en enige ander gesag deur nasionale wetgewing bepaal, aanbevelings doen wat in hierdie Hoofstuk of in nasionale wetgewing beoog word.

(2) Die Kommissie is onafhanklik en slegs aan die Grondwet en die reg onderworpe, en moet onpartydig wees.

(3) Die Kommissie funksioneer ingevolge ʼn Parlementswet en moet by die verrigting van sy funksies alle tersaaklike faktore in aanmerking neem, met inbegrip van die in artikel 214(2) vermeld.

Aanstelling en ampstermyn van lede

  1. (1) Die Kommissie bestaan uit die volgende vroue en mans wat deur die President, as hoof van die nasionale uitvoerende gesag, aangestel word:

(a) ‘n Voorsitter en ʼn adjunkvoorsitter;

(b) drie persone gekies, na oorlegpleging met die Premiers, vanaf ʼn lys saamgestel ooreenkomstig ʼn proses deur nasionale wetgewing voorgeskryf;

(c) twee persone gekies, na oorlegpleging met georganiseerde plaaslike regering, vanaf ʼn lys saamgestel ooreenkomstig ʼn proses deur nasionale wetgewing voorgeskryf; en

(d) twee ander persone.

[Sub-a. (1) vervang by a. 2 van die “Constitution Fifth Amendment Act of 1999” en vervang by a. 7(a) van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

(1A) Nasionale wetgewing bedoel in subartikel (1) moet voorsiening maak vir die deelname van–

(a) die Premiers by die samestelling van ʼn lys in subartikel (1)(b) beoog; en

(a) georganiseerde plaaslike regering by die samestelling van ʼn lys in subartikel (1)(c) beoog.

[Sub-a. (1A) ingevoeg by a. 7(b) van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

(2) Lede van die Kommissie moet toepaslike kundigheid besit.

(3) Lede dien vir ʼn termyn ingevolge nasionale wetgewing bepaal. Die President kan ʼn lid van die amp onthef op grond van wangedrag, onvermoë of onbevoegdheid.

Verslae

  1. Die Kommissie moet gereeld aan sowel die Parlement as die provinsiale wetgewers verslag doen.

Sentrale Bank

Instelling

  1. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank is die sentrale bank van die Republiek en word ingevolge ʼn Parlementswet gereguleer.

Hoofoogmerk

  1. (1) Die hoofoogmerk van die Suid-Afrikaanse Reserwebank is om in die belang van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei in die Republiek die waarde van die geldeenheid te beskerm.

(2) Die Suid-Afrikaanse Reserwebank moet in die nastrewing van sy hoofoogmerk sy funksies onafhanklik en sonder vrees, begunstiging of vooroordeel verrig, maar daar moet gereelde oorlegpleging wees tussen die Bank en die Kabinetslid wat vir nasionale finansiële sake verantwoordelik is.

Bevoegdhede en werksaamhede

  1. Die bevoegdhede en funksies van die Suid-Afrikaanse Reserwebank is dié wat gebruiklikerwys deur sentrale banke uitgeoefen en verrig word, moet deur ʼn Parlementswet bepaal word en moet uitgeoefen of verrig word behoudens die voorwaardes ingevolge dié Wet voorgeskryf.

Provinsiale en Plaaslike Finansiële Aangeleenthede

Provinsiale Inkomstefondse

  1. (1) Daar is ʼn Provinsiale Inkomstefonds vir elke provinsie, waarin alle geld gestort word wat deur die provinsiale regering ontvang word, behalwe geld wat redelikerwys deur ʼn Parlementswet uitgesluit word.

(2) Geld kan uit ʼn Provinsiale Inkomstefonds onttrek word slegs–

(a) ingevolge ʼn bewilliging deur ʼn provinsiale Wet; of

(b) as ʼn regstreekse las teen die Provinsiale Inkomstefonds, wanneer in die Grondwet of ʼn provinsiale Wet daarvoor voorsiening gemaak word.

(3) Inkomste wat ingevolge artikel 214(1) deur bemiddeling van ʼn provinsie aan plaaslike regering in daardie provinsie toegeken word, is ʼn regstreekse las teen daardie provinsie se Inkomstefonds.

(4) Nasionale wetgewing kan ʼn raamwerk voorskryf waarbinne–

(a) ‘n provinsiale Wet ingevolge subartikel (2)(b) die onttrekking van geld as ʼn regstreekse las teen ʼn Provinsiale Inkomstefonds kan magtig; en

(b) inkomste wat deur bemiddeling van ʼn provinsie aan plaaslike regering in daardie provinsie ingevolge subartikel (3) toegewys is, aan munisipaliteite in die provinsie oorbetaal moet word.

[Sub-a. (4) bygevoeg by a. 8 van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

[Datum van inwerkingtreding van a. 226: 1 Januarie 1998.]

Nasionale befondsingsbronne van provinsiale en plaaslike regering

  1. (1) Plaaslike regering en elke provinsie–

(a) is op ʼn billike deel van die inkomste wat nasionaal ingevorder word, geregtig ten einde hom in staat te stel om basiese dienste te verskaf en die funksies te verrig wat aan hom toegewys word; en

(b) kan hetsy voorwaardelik hetsy onvoorwaardelik ander toekennings uit nasionale regeringsinkomste ontvang.

(2) Bykomende inkomste wat deur provinsies of munisipaliteite ingevorder word, mag nie afgetrek word van hul deel van die inkomste wat nasionaal ingevorder word of van enige ander toekennings wat uit die nasionale regeringsinkomste aan hulle gedoen word nie. Insgelyks rus daar geen verpligting op die nasionale regering om provinsies of munisipaliteite te vergoed wat nie inkomste in ooreenstemming met hul fiskale vermoë en belastingbasis invorder nie.

(3) ʼn Provinsie se billike deel van inkomste wat nasionaal ingevorder word, moet onverwyld en sonder vermindering aan die provinsie oorgedra word, behalwe wanneer die oordrag ingevolge artikel 216 gestaak is.

(4) ʼn Provinsie moet vir homself enige geldmiddele voorsien wat hy ingevolge ʼn bepaling van sy provinsiale grondwet bykomend by sy behoeftes in die Grondwet beoog, nodig het.

[Datum van inwerkingtreding van a. 227: 1 Januarie 1998.]

Provinsiale belastings

  1. (1) ‘n Provinsiale wetgewer kan–

(a) belastings, heffings en regte oplê, uitgesonderd inkomstebelasting, belasting op toegevoegde waarde, algemene verkoopbelasting, eiendomsbelasting of doeaneregte; en

(b) uniforme bobelasting hef op enige belasting, heffing of reg wat deur nasionale wetgewing opgelê word, uitgesonderd op korporatiewe inkomstebelasting, belasting op toegevoegde waarde, eiendomsbelasting of doeaneregte.

[Par. (b) vervang by a. 9 van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

(2) Die bevoegdheid van ʼn provinsiale wetgewer om belastings, heffings, regte en bobelasting op te lê–

(a) mag nie uitgeoefen word op ʼn wyse wat nasionale ekonomiese beleide, ekonomiese bedrywighede oor provinsiale grense heen of die nasionale beweeglikheid van goedere, dienste, kapitaal of arbeid wesenlik en onredelik benadeel nie; en

(b) moet gereguleer word ingevolge ʼn Parlementswet, wat verorden kan word slegs nadat enige aanbevelings van die Finansiële en Fiskale Kommissie oorweeg is.

[Datum van inwerkingtreding van a. 228: 1 Januarie 1998.]

Munisipale fiskale bevoegdhede en funksies

  1. (1) Behoudens subartikels (2), (3) en (4) kan ʼn munisipaliteit–

(a) eiendomsbelasting en bobelasting op gelde oplê vir dienste deur of namens die munisipaliteit verskaf; en

(b) indien deur nasionale wetgewing daartoe gemagtig, ander belastings, heffings en regte oplê wat gepas is vir plaaslike regering of vir die kategorie plaaslike regering waarin daardie munisipaliteit val, maar geen munisipaliteit mag inkomstebelasting, belasting op toegevoegde waarde, algemene verkoopbelasting of doeaneregte oplê nie.

(2) Die bevoegdheid van ʼn munisipaliteit om eiendomsbelasting, bobelasting op gelde vir dienste deur of namens die munisipaliteit verskaf of ander belastings, heffings of regte op te lê–

(a) mag nie uitgeoefen word op ʼn wyse wat nasionale ekonomiese beleide, ekonomiese bedrywighede oor munisipale grense heen of die nasionale beweeglikheid van goedere, dienste, kapitaal of arbeid wesenlik en onredelik benadeel nie; en

(b) kan deur nasionale wetgewing gereguleer word.

(3) Wanneer twee munisipaliteite dieselfde fiskale bevoegdhede en funksies met betrekking tot dieselfde gebied het, moet ʼn gepaste verdeling van daardie bevoegdhede en funksies ingevolge nasionale wetgewing gedoen word. Die verdeling kan slegs na inagneming van minstens die volgende maatstawwe gedoen word:

(a) Die behoefte om aan gesonde belastingbeginsels te voldoen.

(b) Die bevoegdhede wat uitgeoefen word en funksies wat verrig word deur elke munisipaliteit.

(c) Die fiskale vermoë van elke munisipaliteit.

(d) Die doeltreffendheid en doelmatigheid van die invordering van belastings, heffings en regte.

(e) Billikheid.

(4) Niks in hierdie artikel belet dat inkomste wat ingevolge hierdie artikel ingevorder word, gedeel word tussen munisipaliteite wat in dieselfde gebied fiskale bevoegdheid en funksies het nie.

(5) Nasionale wetgewing in hierdie artikel beoog, kan verorden word slegs nadat georganiseerde plaaslike regering en die Finansiële en Fiskale Kommissie geraadpleeg is en enige aanbevelings van die Kommissie oorweeg is.

[Datum van inwerkingtreding van a. 229: 1 Januarie 1998.]

Provinsiale lenings

  1. (1) ʼn Provinsie kan lenings vir kapitaaluitgawes of lopende uitgawes aangaan ooreenkomstig nasionale wetgewing, maar lenings vir lopende uitgawes kan aangegaan word slegs wanneer dit gedurende ʼn belastingjaar vir oorbruggingsdoeleindes nodig is.

(2) Nasionale wetgewing bedoel in subartikel (1) kan verorden word slegs nadat enige aanbevelings van die Finansiële en Fiskale Kommissie oorweeg is.

[A. 230 vervang by a. 10 van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

Munisipale lenings

230A. (1) ʼn Munisipale Raad kan, ooreenkomstig nasionale wetgewing-

(a) lenings vir kapitaaluitgawes of lopende uitgawes van die munisipaliteit aangaan, maar lenings vir lopende uitgawes kan aangegaan word slegs wanneer dit gedurende ʼn belastingjaar vir oorbruggingsdoeleindes nodig is; en

(b) homself en ʼn toekomstige Raad in die uitoefening van sy wetgewende en uitvoerende gesag bind ten einde lenings of beleggings vir die munisipaliteit te verkry.

(2) Nasionale wetgewing bedoel in subartikel (1) kan verorden word slegs nadat enige aanbevelings van die Finansiële en Fiskale Kommissie oorweeg is.

[A. 230A ingevoeg by a. 17 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

Lees die volledige Grondwet
Lees en laai af