fbpx

Hoofstuk 14: algemene bepalings

Deel Op Sosiale Media

ALGEMENE BEPALINGS

Hoofstuk 14

 Volkereg

Internasionale ooreenkomste

  1. (1) Die onderhandeling en ondertekening van alle internasionale ooreenkomste is die verantwoordelikheid van die nasionale uitvoerende gesag.

(2) ʼn Internasionale ooreenkoms bind die Republiek slegs nadat dit in sowel die Nasionale Vergadering as die Nasionale Raad van Provinsies by besluit goedgekeur is, tensy dit ʼn ooreenkoms genoem in subartikel (3) is.

(3) ʼn Internasionale ooreenkoms van tegniese, administratiewe of uitvoerende aard, of ʼn ooreenkoms wat nie bekragtiging of toetrede vereis nie, en wat deur die nasionale uitvoerende gesag aangegaan is, bind die Republiek sonder goedkeuring deur die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies, maar moet binne ʼn redelike tyd in die Vergadering en die Raad ter tafel gelê word.

(4) ʼn Internasionale ooreenkoms verkry regskrag in die Republiek wanneer dit by nasionale wetgewing as wet verorden word; maar ʼn regstreeks uitvoerbare bepaling van ʼn ooreenkoms wat deur die Parlement goedgekeur is, verkry regskrag in die Republiek tensy die ooreenkoms met die Grondwet of ʼn Parlementswet onbestaanbaar is.

(5) Die Republiek word gebind deur internasionale ooreenkomste wat die Republiek by die inwerkingtreding van hierdie Grondwet gebind het.

Volkeregtelike gewoontereg

  1. Volkeregtelike gewoontereg het regskrag in die Republiek tensy dit met die Grondwet of ʼn Parlementswet onbestaanbaar is.

Toepassing van volkereg

  1. By die uitleg van wetgewing moet elke hof aan enige redelike uitleg van die wetgewing wat met die volkereg bestaanbaar is, voorkeur gee bo enige alternatiewe uitleg wat met die volkereg onbestaanbaar is.

Ander aangeleenthede

Handveste van Regte

  1. Ten einde die kultuur van demokrasie deur die Grondwet ingestel, te versterk, kan die Parlement Handveste van Regte aanneem wat met die bepalings van die Grondwet bestaanbaar is.

Selfbeskikking

  1. Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking, soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.

Befondsing vir politieke partye

  1. Ten einde veelparty-demokrasie te bevorder, moet nasionale wetgewing voorsiening maak vir die befondsing op ʼn billike en proporsionele grondslag van politieke partye wat aan nasionale en provinsiale wetgewers meedoen.

Getroue nakoming van verpligtinge

  1. Alle grondwetlike verpligtinge moet getrou en sonder versuim nagekom word.

Agentskap en delegering

  1. ‘n Uitvoerende staatsorgaan in enige regeringsfeer kan–

(a) enige bevoegdheid of funksie wat ingevolge wetgewing uitgeoefen of verrig moet word, aan enige ander uitvoerende staatsorgaan delegeer mits die delegering bestaanbaar is met die wetgewing ingevolge waarvan die bevoegdheid uitgeoefen of die funksie verrig word; of

(b) enige bevoegdheid of funksie vir enige ander uitvoerende staatsorgaan op ʼn agentskaps- of delegeringsgrondslag uitoefen of verrig.

Woordomskrywing

  1. In die Grondwet, tensy uit die samehang anders blyk, beteken– “nasionale wetgewing” ook–

(a) ondergeskikte wetgewing ingevolge ʼn Parlementswet gemaak; en

(b) wetgewing wat van krag was toe die Grondwet in werking getree het en wat deur die nasionale regering geadministreer word; “provinsiale wetgewing” ook–

(a) ondergeskikte wetgewing ingevolge ʼn provinsiale Wet gemaak; en

(b) wetgewing wat van krag was toe die Grondwet in werking getree het en wat deur ʼn provinsiale regering geadministreer word; “staatsorgaan”–

(a) enige staatsdepartement of administrasie in die nasionale, provinsiale of plaaslike regeringsfeer; of

(b) enige ander funksionaris of instelling wat–

(i) ingevolge die Grondwet of ʼn provinsiale grondwet ʼn bevoegdheid uitoefen of ʼn funksie verrig; of

(ii) ingevolge wetgewing ʼn openbare bevoegdheid uitoefen of ʼn openbare funksie verrig; maar nie ook ʼn hof of ʼn regterlike beampte nie.

Teenstrydighede tussen verskillende tekste

  1. In die geval van ʼn teenstrydigheid tussen verskillende tekste van die Grondwet gee die Engelse teks die deurslag.

Oorgangsreëlings

  1. Bylae 6 is van toepassing op die oorgang na die nuwe grondwetlike bestel wat deur hierdie Grondwet ingestel word en op enige aangeleentheid wat met dié oorgang in verband staan.

Herroeping van wette

  1. Die wette vermeld in Bylae 7 word herroep, behoudens artikel 243 en Bylae 6.

Kort titel en inwerkingtreding

  1. (1) Hierdie Wet heet die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, en tree so gou as moontlik in werking op ʼn datum wat die President by proklamasie bepaal, wat nie ʼn datum later as 1 Julie 1997 mag wees nie.

(2) Die President kan verskillende datums wat voor die datum vermeld in subartikel (1) is, ten opsigte van verskillende bepalings van die Grondwet bepaal.

(3) Tensy uit die samehang anders blyk, word ʼn verwysing in ʼn bepaling van die Grondwet na ʼn tydstip waarop die Grondwet in werking getree het, uitgelê as ʼn verwysing na die tydstip waarop daardie bepaling in werking getree het.

(4) Indien daar ingevolge subartikel (2) ʼn verskillende datum ten opsigte van enige besondere bepaling van die Grondwet bepaal word, word enige ooreenstemmende bepaling van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1993 (Wet 200 van 1993), wat in die proklamasie vermeld word, met ingang van dieselfde datum herroep.

(5) Artikels 213, 214, 215, 216, 218, 226, 227, 228, 229 en 230 tree op 1 Januarie 1998 in werking, maar dit belet nie die verordening ingevolge hierdie Grondwet voor daardie datum van wetgewing wat in enige van hierdie bepalings beoog word nie. Tot daardie datum bly enige ooreenstemmende en verbandhoudende bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1993, van krag.

Lees die volledige Grondwet
Lees en laai af