fbpx

Hoofstuk 4: Parlement

Deel Op Sosiale Media

PARLEMENT

Hoofstuk 4

Samestelling van Parlement

  1. (1) Die Parlement bestaan uit–

(a) die Nasionale Vergadering; en

(b) die Nasionale Raad van Provinsies.

(2) Die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies neem aan die wetgewende proses deel op die wyse wat in die Grondwet uiteengesit word.

(3) Die Nasionale Vergadering word verkies om die mense te verteenwoordig en om regering deur die mense kragtens die Grondwet te verseker. Hy doen dit deur die President te kies, deur as ʼn nasionale forum vir die openbare oorweging van sake te dien, deur wetgewing aan te neem en deur optrede van die uitvoerende gesag na te gaan en toesig daaroor uit te oefen.

(4) Die Nasionale Raad van Provinsies verteenwoordig die provinsies ten einde te verseker dat provinsiale belange in die nasionale regeringsfeer in ag geneem word. Hy doen dit hoofsaaklik deur aan die nasionale wetgewende proses deel te neem en deur as ʼn nasionale forum te dien vir die openbare oorweging van sake wat die provinsies raak.

(5) Die President kan die Parlement te eniger tyd vir ʼn buitengewone sitting byeenroep om spesiale werksaamhede te verrig.

(6) Die setel van die Parlement is Kaapstad, maar ʼn Parlementswet wat ooreenkomstig artikel 76(1) en (5) verorden is, kan bepaal dat die setel van die Parlement elders is.

Wetgewende gesag van die Republiek

  1. In die Republiek berus die wetgewende gesag–

(a) van die nasionale regeringsfeer by die Parlement, soos in artikel 44 uiteengesit;

(b) van die provinsiale regeringsfeer by die provinsiale wetgewers, soos in artikel 104 uiteengesit; en

(c) van die plaaslike regeringsfeer by die Munisipale Rade, soos in artikel 156 uiteengesit.

Nasionale wetgewende gesag

  1. (1) Die nasionale wetgewende gesag soos dit by die Parlement berus–

(a) verleen aan die Nasionale Vergadering die bevoegdheid–

(i) om die Grondwet te wysig;

(ii) om wetgewing aan te neem met betrekking tot enige aangeleentheid, met inbegrip van ʼn aangeleentheid binne ʼn funksionele gebied in Bylae 4 vermeld, maar uitgesonderd, behoudens subartikel (2), ʼn aangeleentheid binne ʼn funksionele gebied in Bylae 5 vermeld; en

(iii) om enige van sy wetgewende bevoegdhede, uitgesonderd die bevoegdheid om die Grondwet te wysig, aan enige wetgewende liggaam in ʼn ander regeringsfeer op te dra; en

(b) verleen aan die Nasionale Raad van Provinsies die bevoegdheid–

(i) om ooreenkomstig artikel 74 aan die wysiging van die Grondwet deel te neem;

(ii) om ooreenkomstig artikel 76 wetgewing aan te neem met betrekking tot enige aangeleentheid binne ʼn funksionele gebied in Bylae 4 vermeld en enige ander aangeleentheid ten opsigte waarvan wetgewing ingevolge die Grondwet ooreenkomstig artikel 76 aangeneem moet word; en

(iii) om ooreenkomstig artikel 75 enige ander wetgewing te oorweeg wat deur die Nasionale Vergadering aangeneem is.

(2) Die Parlement kan, deur ooreenkomstig artikel 76(1) wetgewing aan te neem, met betrekking tot ʼn aangeleentheid wat val binne ʼn funksionele gebied in Bylae 5 vermeld, ingryp wanneer dit nodig is om–

(a) nasionale veiligheid te handhaaf;

(b) ekonomiese eenheid te handhaaf;

(c) noodsaaklike nasionale standaarde te handhaaf;

(d) minimum standaarde wat vir die lewering van dienste nodig is, te bepaal; of

(e) onredelike optrede deur ʼn provinsie wat nadelig is vir die belange van ʼn ander provinsie of van die land as geheel, te voorkom.

(3) Wetgewing met betrekking tot ʼn aangeleentheid wat redelikerwys nodig is vir, of verband hou met, die doeltreffende uitoefening van ʼn bevoegdheid betreffende ʼn aangeleentheid in Bylae 4 vermeld, is vir alle doeleindes wetgewing met betrekking tot ʼn aangeleentheid in Bylae 4 vermeld.

(4) In die uitoefening van sy wetgewende gesag word die Parlement slegs deur die Grondwet gebind, en moet hy ooreenkomstig, en binne die perke van, die Grondwet optree.

Gesamentlike reëls en orders en gesamentlike komitees

  1. (1) Die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies moet ʼn gesamentlike reëlskomitee instel om reëls en orders betreffende die gesamentlike werksaamhede van die Vergadering en die Raad te maak, met inbegrip van reëls en orders om–

(a) prosedures te bepaal om die wetgewende proses te vergemaklik, met inbegrip van die stel van ʼn tydsbeperking vir die voltooiing van enige stap in die proses;

(b) gesamentlike komitees bestaande uit verteenwoordigers van sowel die Vergadering as die Raad in te stel om oorweging te skenk aan en verslag te doen oor Wetsontwerpe in artikels 74 en 75 beoog wat na so ʼn komitee verwys word;

(c) ʼn gesamentlike komitee in te stel om die Grondwet minstens jaarliks te hersien; en

(d) die werksaamhede te reël van-

(i) die gesamentlike reëlskomitee;

(ii) die Bemiddelingskomitee;

(iii) die grondwetlike hersieningskomitee; en

(iv) enige gesamentlike komitees ingevolge paragraaf (b) ingestel.

(2) Lede van die Kabinet, lede van die Nasionale Vergadering en afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies het dieselfde voorregte en immuniteite voor ʼn gesamentlike komitee van die Vergadering en die Raad as dié wat hulle voor die Vergadering of die Raad het.

Die Nasionale Vergadering

Samestelling en verkiesing

  1. (1) Die Nasionale Vergadering bestaan uit minstens 350 en hoogstens 400 vroue en mans wat as lede verkies is ingevolge ʼn kiesstelsel wat –

(a) deur nasionale wetgewing voorgeskryf word;

(b) op die nasionale gemeenskaplike kieserslys gebaseer is;

(c) vir ʼn minimum stemouderdom van 18 jaar voorsiening maak; en

(d) in die algemeen, proporsionele verteenwoordiging tot gevolg het.

(2) ‘ʼn Parlementswet moet ʼn formule voorsien om die getal lede van die Nasionale Vergadering te bepaal.

[Sub-a. (1) gewysig by a. 1 van die Tiende Wysigingswet op die Grondwet van 2003 en by a. 1 van die

Vyftiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

Lidmaatskap

  1. (1) Elke burger wat bevoeg is om vir die Nasionale Vergadering te stem, is bevoeg om ʼn lid van die Vergadering te wees, uitgesonderd–

(a) iemand wat aangestel is deur, of in die diens is van, die staat en vergoeding vir daardie aanstelling of diens ontvang, behalwe–

(i) die President, Adjunkpresident, Ministers en Adjunkministers; en

(ii) ander ampsdraers wie se funksies met die funksies van ʼn lid van die Vergadering bestaanbaar is, en deur nasionale wetgewing verklaar is met daardie funksies bestaanbaar te wees;

(b) vaste afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies, of lede van ʼn provinsiale wetgewer of ʼn Munisipale Raad;

(c) ongerehabiliteerde insolvente;

(d) iemand wat deur ʼn hof van die Republiek as geestelik gekrenk verklaar is; of

(e) iemand wat, na die inwerkingtreding van hierdie artikel, binne die Republiek aan ʼn misdryf skuldig bevind word, of buite die Republiek aldus skuldig bevind word indien die optrede wat die misdryf uitmaak binne die Republiek ʼn misdryf sou uitgemaak het, en tot meer as 12 maande gevangenisstraf sonder die keuse van ʼn boete gevonnis is, maar niemand word beskou as gevonnis te wees voordat ʼn appèl teen die skuldigbevinding of vonnis beslis is, of voordat die tyd om appèl aan te teken, verstryk het nie. ʼn Onbevoegdheid ingevolge hierdie paragraaf verstryk vyf jaar nadat die vonnis voltooi is.

(2) Iemand wat ingevolge subartikel (1)(a) of (b) onbevoeg is om ʼn lid van die Nasionale Vergadering te wees, kan ʼn kandidaat vir die Vergadering wees behoudens enige beperkings of voorwaardes wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

(3) Iemand verloor lidmaatskap van die Nasionale Vergadering indien so iemand–

(a) ophou om bevoeg te wees;

(b) sonder toestemming afwesig is van die Vergadering in omstandighede waarvoor die reëls en orders van die Vergadering verlies van lidmaatskap voorskryf; of

(c) ophou om ʼn lid van die party te wees wat so iemand as ʼn lid van die Vergadering benoem het.

[Sub-a. (3) vervang by a. 2 van die Tiende Wysigingswet op die Grondwet van 2003 en by a. 2 van die

Vyftiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

(4) Vakatures in die Nasionale Vergadering moet ooreenkomstig nasionale wetgewing

gevul word.

Eed of plegtige verklaring

  1. Voordat lede van die Nasionale Vergadering begin om hul funksies in die Vergadering te verrig, moet hulle ooreenkomstig Bylae 2 ʼn eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet aflê.

Duur van Nasionale Vergadering

  1. (1) Die Nasionale Vergadering word vir ʼn termyn van vyf jaar verkies.

(2) Indien die Nasionale Vergadering ingevolge artikel 50 ontbind word, of wanneer sy termyn verstryk, moet die President by proklamasie ʼn verkiesing uitskryf en datums daarvoor bepaal, en dié verkiesing moet gehou word binne 90 dae vanaf die datum waarop die Vergadering ontbind is of sy termyn verstryk het. ʼn Proklamasie wat ʼn verkiesing uitskryf en datums daarvoor bepaal, kan uitgereik word voor of na die verstryking van die termyn van die Nasionale Vergadering.

[Sub-a. (2) vervang by a. 1 van die “Constitution Fifth Amendment Act of 1999”.]

(3) Indien die uitslag van ʼn verkiesing van die Nasionale Vergadering nie binne die tydperk ingevolge artikel 190 vasgestel, bekend gemaak word nie of indien ʼn verkiesing deur ʼn hof tersyde gestel word, moet die President by proklamasie ʼn ander verkiesing uitskryf en datums daarvoor bepaal, en dié verkiesing moet gehou word binne 90 dae vanaf die verstryking van daardie tydperk of vanaf die datum waarop die verkiesing tersyde gestel is.

(4) Die Nasionale Vergadering bly bevoeg om te funksioneer vanaf sy ontbinding of die verstryking van sy termyn tot op die dag voor die eerste dag waarop die stemming vir die volgende Vergadering plaasvind.

Ontbinding van Nasionale Vergadering voor verstryking van sy termyn

  1. (1) Die President moet die Nasionale Vergadering ontbind indien–

(a) die Vergadering ʼn besluit om te ontbind met ʼn ondersteunende stem van ʼn meerderheid van sy lede aangeneem het; en

(b) drie jaar verstryk het sedert die Vergadering verkies is.

(2) Die Waarnemende President moet die Nasionale Vergadering ontbind indien–

(a) daar ʼn vakature in die amp van President is; en

(b) die Vergadering in gebreke bly om binne 30 dae nadat die vakature ontstaan het ʼn nuwe President te kies.

Sittings en resesse

  1. (1) Die eerste sitting van die Nasionale Vergadering na ʼn verkiesing vind plaas op ʼn tyd en datum wat die Hoofregter bepaal, maar nie later nie as 14 dae nadat die uitslag van die verkiesing bekend gemaak is. Die Vergadering kan die tyd en duur van sy ander sittings en sy resesse bepaal.

[Sub-a. (1) vervang by a. 1 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

(2) Die President kan die Nasionale Vergadering te eniger tyd vir ʼn buitengewone sitting byeenroep om spesiale werksaamhede te verrig.

(3) Sittings van die Nasionale Vergadering op ander plekke as die setel van die Parlement word veroorloof slegs op grond van die openbare belang, veiligheid of gerief, en indien daar in die reëls en orders van die Vergadering daarvoor voorsiening gemaak word.

Speaker en Adjunkspeaker

  1. (1) By die eerste sitting na sy verkiesing, of wanneer dit nodig is om ʼn vakature te vul, moet die Nasionale Vergadering uit sy geledere ʼn Speaker en ʼn Adjunkspeaker kies.

(2) Die Hoofregter moet by die verkiesing van ʼn Speaker voorsit, of ʼn ander regter aanwys om dit te doen. Die Speaker sit by die verkiesing van ʼn Adjunkspeaker voor.

[Sub-a. (2) vervang by a. 2 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

(3) Die prosedure in Deel A van Bylae 3 uiteengesit, is op die verkiesing van die Speaker en die Adjunkspeaker van toepassing.

(4) Die Nasionale Vergadering kan die Speaker of Adjunkspeaker by besluit van die amp onthef. ʼn Meerderheid van die lede van die Vergadering moet teenwoordig wees wanneer dié besluit aangeneem word.

(5) Die Nasionale Vergadering kan ingevolge sy reëls en orders uit sy geledere ander voorsittende beamptes kies om die Speaker en die Adjunkspeaker behulpsaam te wees.

Besluite

  1. (1) Behalwe waar die Grondwet anders bepaal–

(a) moet ʼn meerderheid van die lede van die Nasionale Vergadering teenwoordig wees voordat ʼn stemming oor ʼn Wetsontwerp of ʼn wysiging van ʼn Wetsontwerp gehou kan word;

(b) moet minstens een derde van die lede teenwoordig wees voordat ʼn stemming oor enige ander vraag wat voor die Vergadering dien, gehou kan word; en

(c) word alle vrae wat voor die Vergadering dien, beslis deur ʼn meerderheid van die stemme wat uitgebring word.

(2) Die lid van die Nasionale Vergadering wat by ʼn vergadering van die Vergadering voorsit, het nie ʼn beraadslagende stem nie, maar–

(a) moet ʼn beslissende stem uitbring wanneer daar ʼn staking van stemme oor ʼn vraag is; en

(b) kan ʼn beraadslagende stem uitbring wanneer ʼn vraag beslis moet word met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van die lede van die Vergadering.

Regte van sekere Kabinetslede en Adjunkministers in die Nasionale Vergadering

  1. Die President en enige lid van die Kabinet of enige Adjunkminister wat nie ʼn lid van die Nasionale Vergadering is nie, kan, behoudens die Vergadering se reëls en orders, in die Vergadering sitting neem en daarin praat, maar mag nie stem nie.

[A. 54 vervang by a. 3 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

Bevoegdhede van Nasionale Vergadering

  1. (1) In die uitoefening van sy wetgewende bevoegdheid kan die Nasionale Vergadering–

(a) enige wetgewing wat voor die Vergadering dien, oorweeg, aanneem, wysig of verwerp; en

(b) wetgewing, behalwe Geldwetsontwerpe, inisieer of opstel.

(2) Die Nasionale Vergadering moet voorsiening maak vir meganismes om–

(a) te verseker dat alle uitvoerende staatsorgane in die nasionale regeringsfeer aan hom verantwoording doen; en

(b) toesig te hou oor–

(i) die uitoefening van nasionale uitvoerende gesag, met inbegrip van die uitvoering van wetgewing; en

(ii) enige staatsorgaan.

Getuienis of inligting voor Nasionale Vergadering

  1. Die Nasionale Vergadering of enige van sy komitees kan–

(a) enige persoon dagvaar om voor hom te verskyn om onder eed of plegtige verklaring getuienis af te lê, of om dokumente voor te lê;

(b) van enige persoon of instelling vereis om aan hom verslag te doen;

(c) ingevolge nasionale wetgewing of die reëls en orders enige persoon of instelling verplig om aan ʼn dagvaarding of vereiste ingevolge paragraaf (a) of

(b) te voldoen; en

(d) van enige belanghebbende persone of instellings petisies, vertoë of voorleggings ontvang.

Interne reëlings, verrigtinge en prosedures van Nasionale Vergadering

  1. (1) Die Nasionale Vergadering kan–

(a) sy interne reëlings, verrigtinge en prosedures bepaal en beheer; en

(b) reëls en orders betreffende sy werksaamhede maak, met behoorlike inagneming van verteenwoordigende en deelnemende demokrasie, verantwoordingspligtigheid, deursigtigheid en publieke betrokkenheid.

(2) Die reëls en orders van die Nasionale Vergadering moet voorsiening maak vir–

(a) die instelling, samestelling, bevoegdhede, funksies, prosedures en duur van sy komitees;

(b) die deelname van minderheidspartye wat in die Vergadering verteenwoordig is, aan die verrigtinge van die Vergadering en sy komitees op ʼn wyse wat met die demokrasie bestaanbaar is;

(c) finansiële en administratiewe hulp aan elke party wat in die Vergadering verteenwoordig is, in verhouding tot sy verteenwoordiging, ten einde die party en sy leier in staat te stel om hul funksies in die Vergadering doeltreffend te verrig; en

(d) die erkenning van die leier van die grootste opposisieparty in die Vergadering as die Leier van die Opposisie.

Voorreg

  1. (1) Kabinetslede, Adjunkministers en lede van die Nasionale Vergadering–

(a) het behoudens die Vergadering se reëls en orders vryheid van spraak in die Vergadering en in sy komitees; en

(b) is nie blootgestel aan siviele of strafregtelike verrigtinge, inhegtenisneming, gevangesetting of skadevergoeding weens–

(i) enigiets wat hulle in of voor of aan die Vergadering of enige van sy komitees gesê, blootgelê of voorgelê het nie; of

(ii) enigiets wat aan die lig gebring is as gevolg van enigiets wat hulle in of voor of aan die Vergadering of enige van sy komitees gesê, blootgelê of voorgelê het nie.

(2) Ander voorregte en immuniteite van die Nasionale Vergadering, Kabinetslede en lede van die Vergadering kan deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

(3) Salarisse, toelaes en voordele wat aan lede van die Nasionale Vergadering betaalbaar is, is ʼn regstreekse las teen die Nasionale Inkomstefonds.

[Sub-a. (1) gewysig by a. 4 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

Publieke toegang tot en betrokkenheid in Nasionale Vergadering

  1. (1) Die Nasionale Vergadering moet–

(a) publieke betrokkenheid in die wetgewende en ander prosesse van die Vergadering en sy komitees vergemaklik; en

(b) sy werksaamhede op ʼn oop wyse verrig, en sy sittings en dié van sy komitees in die openbaar hou, maar redelike maatreëls kan getref word om–

(i) publieke toegang, met inbegrip van toegang aan die media, tot die Vergadering en sy komitees te reguleer; en

(ii) voorsiening te maak vir die deursoeking van en, waar dit gepas is, die weiering van toegang aan of die verwydering van enige persoon.

(2) Die Nasionale Vergadering mag nie die publiek, met inbegrip van die media, van ʼn sitting van ʼn komitee uitsluit nie tensy dit in ʼn oop en demokratiese gemeenskap redelik en regverdigbaar is om dit te doen.

Nasionale Raad van Provinsies

Samestelling van Nasionale Raad

  1. (1) Die Nasionale Raad van Provinsies word saamgestel uit ʼn enkele afvaardiging uit elke provinsie bestaande uit tien afgevaardigdes.

(2) Die tien afgevaardigdes is–

(a) vier spesiale afgevaardigdes, bestaande uit–

(i) die Premier van die provinsie of, indien die Premier nie beskikbaar is nie, ʼn lid van die provinsiale wetgewer wat óf in die algemeen óf vir ʼn bepaalde werksaamheid wat voor die Nasionale Raad van Provinsies dien, deur die Premier aangewys word; en

(ii) drie ander spesiale afgevaardigdes; en

(b) ses vaste afgevaardigdes wat ingevolge artikel 61(2) aangestel is.

(3) Die Premier van ʼn provinsie of, indien die Premier nie beskikbaar is nie, ʼn lid van die provinsie se afvaardiging wat deur die Premier aangewys word, staan aan die hoof van die afvaardiging.

Toewysing van afgevaardigdes

  1. (1) Partye wat in ʼn provinsiale wetgewer verteenwoordig is, is geregtig op afgevaardigdes in die provinsie se afvaardiging ooreenkomstig die formule in Deel B van Bylae 3 uiteengesit.

(2) (a) ‘ʼn Provinsiale wetgewer moet, binne 30 dae nadat die uitslag van ʼn verkiesing van daardie wetgewer bekend gemaak is–

(i) ooreenkomstig nasionale wetgewing bepaal hoeveel van elke party se afgevaardigdes vaste afgevaardigdes en hoeveel spesiale afgevaardigdes moet wees; en

(ii) die vaste afgevaardigdes ooreenkomstig die partye se benoemings aanstel.

(b) …

[Par. (b) geskrap by a. 1 van die Veertiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

[Sub-a. (2) vervang by a. 1 van die Negende Wysigingswet op die Grondwet van 2002 en by a. 1 van

die Veertiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

(3) Die nasionale wetgewing in subartikel (2)(a) beoog, moet die deelname verseker van minderheidspartye in sowel die vaste as die spesiale afgevaardigdes se komponente van die afvaardiging op ʼn wyse wat met die demokrasie bestaanbaar is.

(4) Die wetgewer, met die instemming van die Premier en die leiers van die partye wat op spesiale afgevaardigdes in die provinsie se afvaardiging geregtig is, moet, soos dit van tyd tot tyd nodig mag wees, spesiale afgevaardigdes uit die geledere van die wetgewer aanwys.

Vaste afgevaardigdes

  1. (1) Iemand wat as ʼn vaste afgevaardigde benoem word, moet bevoeg wees om ʼn lid van die provinsiale wetgewer te wees.

(2) Indien iemand wat ʼn lid van ʼn provinsiale wetgewer is, as ʼn vaste afgevaardigde aangestel word, hou so iemand op om ʼn lid van die wetgewer te wees.

(3) Vaste afgevaardigdes word aangestel vir ʼn termyn wat verstryk–

(a) onmiddellik voor die eerste sitting van ʼn provinsiale wetgewer na sy volgende verkiesing.

(b) …

[Par. (b) geskrap by a. 2 van die Veertiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

[Sub-a. (3) vervang by a. 2 van die Negende Wysigingswet op die Grondwet van 2002 en by a. 2 van

die Veertiende Wysigingswet op die Grondwet van 2008.]

(4) Iemand hou op om ʼn vaste afgevaardigde te wees indien so iemand–

(a) om enige ander rede as so iemand se aanstelling as ʼn vaste afgevaardigde nie meer bevoeg is om ʼn lid van die provinsiale wetgewer te wees nie;

(b) ʼn lid van die Kabinet word;

(c) die vertroue van die provinsiale wetgewer verloor het en teruggeroep word deur die party wat so iemand benoem het;

(d) ophou om ʼn lid te wees van die party wat so iemand benoem het en deur daardie party teruggeroep word; of

(e) sonder toestemming afwesig is van die Nasionale Raad van Provinsies in omstandighede waarvoor die reëls en orders van die Raad verlies van die amp van vaste afgevaardigde voorskryf.

(5) Vakatures onder die vaste afgevaardigdes moet ooreenkomstig nasionale wetgewing gevul word.

(6) Voordat vaste afgevaardigdes begin om hul funksies in die Nasionale Raad van Provinsies te verrig, moet hulle ooreenkomstig Bylae 2 ʼn eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet aflê.

Sittings van Nasionale Raad

  1. (1) Die Nasionale Raad van Provinsies kan die tyd en duur van sy sittings en sy resesse bepaal.

(2) Die President kan die Nasionale Raad van Provinsies te eniger tyd vir ʼn buitengewone sitting byeenroep om spesiale werksaamhede te verrig.

(3) Sittings van die Nasionale Raad van Provinsies op ander plekke as die setel van die Parlement word veroorloof slegs op grond van die openbare belang, veiligheid of gerief, en indien daar in die reëls en orders van die Raad daarvoor voorsiening gemaak word.

Voorsitter en Adjunkvoorsitters

  1. (1) Die Nasionale Raad van Provinsies moet uit die afgevaardigdes ʼn Voorsitter en twee Adjunkvoorsitters kies.

(2) Die Voorsitter en een van die Adjunkvoorsitters word uit die vaste afgevaardigdes verkies vir ʼn termyn van vyf jaar, tensy hul termyne as afgevaardigdes vroeër verstryk.

(3) Die ander Adjunkvoorsitter word vir ʼn termyn van een jaar verkies, en moet opgevolg word deur ʼn afgevaardigde uit ʼn ander provinsie, sodat elke provinsie om die beurt verteenwoordig word.

(4) Die Hoofregter moet by die verkiesing van die Voorsitter voorsit, of ʼn ander regter aanwys om dit te doen. Die Voorsitter sit by die verkiesing van die Adjunkvoorsitters voor.

[Sub-a. (4) vervang by a. 5 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

(5) Die prosedure in Deel A van Bylae 3 uiteengesit, is op die verkiesing van die Voorsitter en die Adjunkvoorsitters van toepassing.

(6) Die Nasionale Raad van Provinsies kan die Voorsitter of ʼn Adjunkvoorsitter van die amp onthef.

(7) Die Nasionale Raad van Provinsies kan ingevolge sy reëls en orders uit die afgevaardigdes ander voorsittende beamptes kies om die Voorsitter en Adjunkvoorsitters behulpsaam te wees.

Besluite

  1. (1) Behalwe waar die Grondwet anders bepaal–

(a) het elke provinsie een stem, wat namens die provinsie deur die hoof van sy afvaardiging uitgebring word; en

(b) word alle vrae voor die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur wanneer minstens vyf provinsies ten gunste van die vraag stem.

(2) ‘ʼn Parlementswet wat verorden is ooreenkomstig die prosedure wat deur hetsy subartikel (1) hetsy subartikel (2) van artikel 76 voorgeskryf is, moet voorsiening maak vir ʼn eenvormige prosedure waarvolgens provinsiale wetgewers magtiging aan hul afvaardigings verleen om namens hulle stemme uit te bring.

Deelname deur lede van nasionale uitvoerende gesag

  1. (1) Kabinetslede en Adjunkministers kan in die Nasionale Raad van Provinsies sitting neem en daarin praat, maar mag nie stem nie.

(2) Die Nasionale Raad van Provinsies kan van ʼn Kabinetslid, ʼn Adjunkminister of ʼn amptenaar in die nasionale of ʼn provinsiale uitvoerende gesag vereis om ʼn vergadering van die Raad of ʼn komitee van die Raad by te woon.

Deelname deur verteenwoordigers van plaaslike regering

  1. Hoogstens tien deeltydse verteenwoordigers wat ingevolge artikel 163 deur die georganiseerde plaaslike regering aangewys word om die verskillende kategorieë munisipaliteite te verteenwoordig, kan, wanneer nodig, aan die verrigtinge van die Nasionale Raad van Provinsies deelneem, maar mag nie stem nie.

Bevoegdhede van Nasionale Raad

  1. In die uitoefening van sy wetgewende bevoegdheid kan die Nasionale Raad van Provinsies–

(a) enige wetgewing wat voor die Raad dien, ooreenkomstig hierdie Hoofstuk oorweeg, aanneem, wysig of verwerp of wysigings daarvan voorstel; en

(b) wetgewing wat val binne ʼn funksionele gebied in Bylae 4 vermeld of ander wetgewing wat in artikel 76(3) genoem word, inisieer of opstel, maar die Raad mag nie Geldwetsontwerpe inisieer of opstel nie.

Getuienis of inligting voor Nasionale Raad

  1. Die Nasionale Raad van Provinsies of enige van sy komitees kan–

(a) enige persoon dagvaar om voor hom te verskyn om onder eed of plegtige verklaring getuienis af te lê, of om dokumente voor te lê;

(b) van enige instelling of persoon vereis om aan hom verslag te doen;

(c) ingevolge nasionale wetgewing of die reëls en orders, enige persoon of instelling verplig om aan ʼn dagvaarding of vereiste ingevolge paragraaf (a) of

(b) te voldoen; en

(d) van enige belanghebbende persone of instellings petisies, vertoë of voorleggings ontvang.

Interne reëlings, verrigtinge en prosedures van Nasionale Raad

  1. (1) Die Nasionale Raad van Provinsies kan–

(a) sy interne reëlings, verrigtinge en prosedures bepaal en beheer; en

(b) reëls en orders betreffende sy werksaamhede maak, met behoorlike inagneming van verteenwoordigende en deelnemende demokrasie, verantwoordingspligtigheid, deursigtigheid en publieke betrokkenheid.

(2) Die reëls en orders van die Nasionale Raad van Provinsies moet voorsiening maak vir–

(a) die instelling, samestelling, bevoegdhede, funksies, prosedures en duur van sy komitees;

(b) die deelname van al die provinsies in sy verrigtinge op ʼn wyse wat met die demokrasie bestaanbaar is; en

(c) die deelname van minderheidspartye wat in die Raad verteenwoordig is, aan die verrigtinge van die Raad en sy komitees op ʼn wyse wat met die demokrasie bestaanbaar is, wanneer daar ooreenkomstig artikel 75 oor ʼn aangeleentheid beslis moet word.

Voorreg

  1. (1) Afgevaardigdes na die Nasionale Raad van Provinsies en die persone in artikels 66 en 67 genoem–

(a) het behoudens die Raad se reëls en orders vryheid van spraak in die Raad en in sy komitees; en

(b) is nie blootgestel aan siviele of strafregtelike verrigtinge, inhegtenisneming, gevangesetting of skadevergoeding weens–

(i) enigiets wat hulle in of voor of aan die Raad of enige van sy komitees gesê, blootgelê of voorgelê het nie; of

(ii) enigiets wat aan die lig gebring is as gevolg van enigiets wat hulle in of voor of aan die Raad of enige van sy komitees gesê, blootgelê of voorgelê het nie.

(2) Ander voorregte en immuniteite van die Nasionale Raad van Provinsies, afgevaardigdes na die Raad en persone in artikels 66 en 67 bedoel, kan deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

(3) Salarisse, toelaes en voordele wat aan vaste lede van die Nasionale Raad van Provinsies betaalbaar is, is ʼn regstreekse las teen die Nasionale Inkomstefonds.

Publieke toegang tot en betrokkenheid in Nasionale Raad

  1. (1) Die Nasionale Raad van Provinsies moet–

(a) publieke betrokkenheid in die wetgewende en ander prosesse van die Raad en sy komitees vergemaklik; en

(b) sy werksaamhede op ʼn oop wyse verrig, en sy sittings en dié van sy komitees in die openbaar hou, maar redelike maatreëls kan getref word om–

(i) publieke toegang, met inbegrip van toegang aan die media, tot die Raad en sy komitees te reguleer; en

(ii) voorsiening te maak vir die deursoeking van en, waar dit gepas is, die weiering van toegang aan of die verwydering van enige persoon.

(2) Die Nasionale Raad van Provinsies mag nie die publiek, met inbegrip van die media, van ʼn sitting van ʼn komitee uitsluit nie tensy dit in ʼn oop en demokratiese gemeenskap redelik en regverdigbaar is om dit te doen.

Nasionale Wetgewende Proses

Alle Wetsontwerpe

  1. (1) Enige Wetsontwerp kan by die Nasionale Vergadering ingedien word.

(2) Slegs ʼn Kabinetslid of ʼn Adjunkminister, of ʼn lid of komitee van die Nasionale Vergadering, kan ʼn Wetsontwerp by die Vergadering indien; maar slegs die Kabinetslid wat vir nasionale finansiële sake verantwoordelik is, kan die volgende Wetsontwerpe by die Vergadering indien:

(a) ‘ ʼn Geldwetsontwerp; of

(b) ʼn Wetsontwerp wat voorsiening maak vir wetgewing in artikel 214 beoog.

[Sub-a. (2) vervang by a. 1(a) van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

(3) ʼn Wetsontwerp in artikel 76(3) bedoel, uitgesonderd ʼn Wetsontwerp in subartikel (2)(a) of (b) van hierdie artikel bedoel, kan by die Nasionale Raad van Provinsies ingedien word.

[Sub-a. (3) vervang by a. 1(b) van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

(4) Slegs ʼn lid of komitee van die Nasionale Raad van Provinsies kan ʼn Wetsontwerp by die Raad indien.

(5) ʼn Wetsontwerp wat deur die Nasionale Vergadering aangeneem is, moet na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word indien dit deur die Raad oorweeg moet word. ʼn Wetsontwerp wat deur die Raad aangeneem is, moet na die Vergadering verwys word.

Wetsontwerpe wat die Grondwet wysig

  1. (1) Artikel 1 en hierdie subartikel kan gewysig word deur ʼn Wetsontwerp wat aangeneem word deur–

(a) die Nasionale Vergadering, met ʼn ondersteunende stem van minstens 75 persent van sy lede; en

(b) die Nasionale Raad van Provinsies, met ʼn ondersteunende stem van minstens ses provinsies.

(2) Hoofstuk 2 kan gewysig word deur ʼn Wetsontwerp wat aangeneem word deur –

(a) die Nasionale Vergadering, met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede; en

(b) die Nasionale Raad van Provinsies, met ʼn ondersteunende stem van minstens ses provinsies.

(3) Enige ander bepaling van die Grondwet kan gewysig word deur ʼn Wetsontwerp wat aangeneem word–

(a) deur die Nasionale Vergadering, met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede; en

(b) ook deur die Nasionale Raad van Provinsies, met ʼn ondersteunende stem van minstens ses provinsies, indien die wysiging–

(i) betrekking het op ʼn aangeleentheid wat die Raad raak;

(ii) provinsiale grense, bevoegdhede, funksies of instellings verander; of

(iii) ʼn bepaling wat spesifiek met ʼn provinsiale aangeleentheid handel, wysig.

(4) ‘ʼn Wetsontwerp wat die Grondwet wysig, mag nie ander bepalings insluit as grondwetlike wysigings en aangeleenthede wat met die wysigings in verband staan nie.

(5) Minstens 30 dae voordat ʼn Wetsontwerp wat die Grondwet wysig, ingevolge artikel 73(2) ingedien word, moet die persoon of komitee wat voornemens is om die Wetsontwerp in te dien–

(a) besonderhede van die beoogde wysiging in die nasionale Staatskoerant, en ooreenkomstig die reëls en orders van die Nasionale Vergadering, vir openbare kommentaar publiseer;

(b) dié besonderhede ooreenkomstig die reëls en orders van die Vergadering aan die provinsiale wetgewers vir hul sienswyses voorlê; en

(c) dié besonderhede ooreenkomstig die reëls en orders van die Nasionale Raad van Provinsies aan die Raad voorlê vir ʼn openbare debat, indien die beoogde wysiging nie ʼn wysiging is wat deur die Raad aangeneem moet word nie.

(6) Wanneer ʼn Wetsontwerp wat die Grondwet wysig, ingedien word, moet die person of komitee wat die Wetsontwerp indien enige skriftelike kommentaar wat van die publiek en die provinsiale wetgewers ontvang is–

(a) aan die Speaker voorlê vir tertafellegging in die Nasionale Vergadering; en

(b) ten opsigte van wysigings in subartikel (1), (2) of (3)(b) genoem, aan die Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies voorlê vir tertafellegging in die Raad.

(7) ‘ʼn Wetsontwerp wat die Grondwet wysig, mag nie in die Nasionale Vergadering tot stemming gebring word nie binne 30 dae vanaf–

(a) die indiening daarvan, indien die Vergadering sit wanneer die Wetsontwerp ingedien word; of

(b) die tertafellegging daarvan in die Vergadering, indien die Vergadering in reses is wanneer die Wetsontwerp ingedien word.

(8) Indien ʼn Wetsontwerp in subartikel (3)(b) genoem, of enige gedeelte van die Wetsontwerp, slegs ʼn bepaalde provinsie of provinsies raak, mag die Nasionale Raad van Provinsies die Wetsontwerp, of die tersaaklike gedeelte daarvan, nie aanneem nie tensy dit deur die wetgewer of wetgewers van die betrokke provinsie of provinsies goedgekeur is.

(9) ʼn Wetsontwerp wat die Grondwet wysig en wat deur die Nasionale Vergadering en, waar van toepassing, deur die Nasionale Raad van Provinsies aangeneem is, moet na die President vir bekragtiging verwys word.

Gewone Wetsontwerpe wat nie provinsies raak nie

  1. (1) Wanneer die Nasionale Vergadering ʼn Wetsontwerp, behalwe ʼn Wetsontwerp waarop die prosedure uiteengesit in artikel 74 of 76 van toepassing is, aanneem, moet die Wetsontwerp na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word en ooreenkomstig die volgende prosedure behandel word:

(a) Die Raad moet–

(i) die Wetsontwerp aanneem;

(ii) die Wetsontwerp aanneem behoudens wysigings deur hom voorgestel; of

(iii) die Wetsontwerp verwerp.

(b) Indien die Raad die Wetsontwerp aanneem sonder om wysigings voor te stel, moet die Wetsontwerp aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(c) Indien die Raad die Wetsontwerp verwerp of dit behoudens wysigings aanneem, moet die Vergadering die Wetsontwerp heroorweeg, met inagneming van enige wysiging wat deur die Raad voorgestel is, en kan die Vergadering–

(i) die Wetsontwerp weer aanneem, met of sonder wysigings; of

(ii) besluit om nie met die Wetsontwerp voort te gaan nie.

(d) ‘ʼn Wetsontwerp wat ingevolge paragraaf (c) deur die Vergadering aangeneem is, moet aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(2) Wanneer die Nasionale Raad van Provinsies ingevolge hierdie artikel oor ʼn vraag stem, is artikel 65 nie van toepassing nie; in plaas daarvan–

(a) het elke afgevaardigde in ʼn provinsiale afvaardiging een stem;

(b) moet minstens een derde van die afgevaardigdes teenwoordig wees voordat daar oor die vraag gestem kan word; en

(c) word die vraag beslis deur ʼn meerderheid van die stemme wat uitgebring word, maar by staking van stemme oor die vraag moet die voorsittende afgevaardigde ʼn beslissende stem uitbring.

Gewone Wetsontwerpe wat provinsies raak

  1. (1) Wanneer die Nasionale Vergadering ʼn Wetsontwerp genoem in subartikel (3), (4) of (5) aanneem, moet die Wetsontwerp na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word en ooreenkomstig die volgende prosedure behandel word:

(a) Die Raad moet–

(i) Die Wetsontwerp aanneem;

(ii) ʼn gewysigde Wetsontwerp aanneem; of

(iii) die Wetsontwerp verwerp.

(b) Indien die Raad die Wetsontwerp sonder wysiging aanneem, moet die Wetsontwerp aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(c) Indien die Raad ʼn gewysigde Wetsontwerp aanneem, moet die gewysigde Wetsontwerp na die Vergadering verwys word, en indien die Vergadering die gewysigde Wetsontwerp aanneem, moet dit aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(d) Indien die Raad die Wetsontwerp verwerp, of indien die Vergadering weier om ʼn gewysigde Wetsontwerp aan te neem wat ingevolge paragraaf (c) na hom verwys is, moet die Wetsontwerp en, waar van toepassing, ook die gewysigde Wetsontwerp verwys word na die Bemiddelingskomitee, wat kan ooreenkom ten gunste van–

(i) die Wetsontwerp soos deur die Vergadering aangeneem;

(ii) die gewysigde Wetsontwerp soos deur die Raad aangeneem; of

(iii) ʼn ander weergawe van die Wetsontwerp.

(e) Indien die Bemiddelingskomitee nie kan ooreenkom binne 30 dae nadat die Wetsontwerp na hom verwys is nie, verval die Wetsontwerp tensy die Vergadering die Wetsontwerp weer aanneem, maar met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede.

(f) Indien die Bemiddelingskomitee ooreenkom ten gunste van die Wetsontwerp soos deur die Vergadering aangeneem, moet die Wetsontwerp na die Raad verwys word, en indien die Raad die Wetsontwerp aanneem, moet die Wetsontwerp aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(g) Indien die Bemiddelingskomitee ooreenkom ten gunste van die gewysigde Wetsontwerp soos deur die Raad aangeneem, moet die Wetsontwerp na die Vergadering verwys word, en indien die Vergadering die Wetsontwerp aanneem, moet die Wetsontwerp aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(h) Indien die Bemiddelingskomitee ten gunste van ʼn ander weergawe van die Wetsontwerp ooreenkom, moet dié weergawe van die Wetsontwerp na sowel die Vergadering as die Raad verwys word, en indien die weergawe deur die Vergadering en die Raad aangeneem word, moet dit aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(i) Indien ʼn Wetsontwerp wat ingevolge paragraaf (f) of (h) na die Raad verwys is, nie deur die Raad aangeneem word nie, verval die Wetsontwerp, tensy die Vergadering die Wetsontwerp aanneem met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede.

(j) Indien ʼn Wetsontwerp wat ingevolge paragraaf (g) of (h) na die Vergadering verwys is, nie deur die Vergadering aangeneem word nie, verval die Wetsontwerp, maar die Wetsontwerp soos oorspronklik deur die Vergadering aangeneem, kan weer deur die Vergadering aangeneem word, maar met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede.

(k) ʼn Wetsontwerp wat ingevolge paragraaf (e), (i) of (j) deur die Vergadering aangeneem is, moet aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(2) Wanneer die Nasionale Raad van Provinsies ʼn Wetsontwerp bedoel in subartikel (3) aanneem, moet die Wetsontwerp na die Nasionale Vergadering verwys word en ooreenkomstig die volgende prosedure behandel word:

(a) Die Vergadering moet–

(i) die Wetsontwerp aanneem;

(ii) ʼn gewysigde Wetsontwerp aanneem; of

(iii) die Wetsontwerp verwerp.

(b) ‘ʼn Wetsontwerp wat ingevolge paragraaf (a)(i) deur die Vergadering aangeneem is, moet aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(c) Indien die Vergadering ʼn gewysigde Wetsontwerp aanneem, moet die gewysigde Wetsontwerp na die Raad verwys word, en indien die Raad die gewysigde Wetsontwerp aanneem, moet dit aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(d) Indien die Vergadering die Wetsontwerp verwerp, of indien die Raad weier om ʼn gewysigde Wetsontwerp aan te neem wat ingevolge paragraaf (c) na hom verwys is, moet die Wetsontwerp en, waar van toepassing, ook die gewysigde Wetsontwerp verwys word na die Bemiddelingskomitee, wat kan ooreenkom ten gunste van–

(i) die Wetsontwerp soos deur die Raad aangeneem;

(ii) die gewysigde Wetsontwerp soos deur die Vergadering aangeneem; of

(iii) ʼn ander weergawe van die Wetsontwerp.

(e) Indien die Bemiddelingskomitee nie kan ooreenkom binne 30 dae nadat die Wetsontwerp na hom verwys is nie, verval die Wetsontwerp.

(f) Indien die Bemiddelingskomitee ooreenkom ten gunste van die Wetsontwerp soos deur die Raad aangeneem, moet die Wetsontwerp na die Vergadering verwys word, en indien die Vergadering die Wetsontwerp aanneem, moet dit aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(g) Indien die Bemiddelingskomitee ooreenkom ten gunste van die gewysigde Wetsontwerp soos deur die Vergadering aangeneem, moet die Wetsontwerp na die Raad verwys word, en indien dit deur die Raad aangeneem word, moet dit aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(h) Indien die Bemiddelingskomitee ten gunste van ʼn ander weergawe van die Wetsontwerp ooreenkom, moet dié weergawe van die Wetsontwerp na sowel die Raad as die Vergadering verwys word, en indien dit deur die Raad en die Vergadering aangeneem word, moet dit aan die President vir bekragtiging voorgelê word.

(i) Indien ʼn Wetsontwerp wat ingevolge paragraaf (f) of (h) na die Vergadering verwys is, nie deur die Vergadering aangeneem word nie, verval die Wetsontwerp.

(3) ʼn Wetsontwerp moet behandel word ooreenkomstig die prosedure wat deur hetsy subartikel (1) hetsy subartikel (2) voorgeskryf word indien dit binne ʼn funksionele gebied vermeld in Bylae 4 val of voorsiening maak vir wetgewing wat in enige van die volgende artikels beoog word:

(a) Artikel 65(2);

(b) artikel 163;

(c) artikel 182;

(d) artikel 195(3) en (4);

(e) artikel 196; en

(f) artikel 197.

(4) ʼn Wetsontwerp moet behandel word ooreenkomstig die prosedure wat deur subartikel (1) voorgeskryf word indien dit voorsiening maak vir wetgewing wat–

(a) in artikel 44(2) of 220(3) beoog word; of

(b) in Hoofstuk 13 beoog word en wat enige bepaling insluit wat die finansiële belange van die provinsiale regeringsfeer raak.

[Par. (b) vervang by a. 1 van die Elfde Wysigingswet op die Grondwet van 2003.]

(5) ʼn Wetsontwerp in artikel 42(6) beoog, moet behandel word ooreenkomstig die prosedure wat deur subartikel (1) voorgeskryf word, behalwe dat–

(a) wanneer die Nasionale Vergadering oor die Wetsontwerp stem, die bepalings van artikel 53(1) nie van toepassing is nie; in plaas daarvan kan die Wetsontwerp aangeneem word slegs indien ʼn meerderheid van die lede van die Vergadering ten gunste daarvan stem; en

(b) indien die Wetsontwerp na die Bemiddelingskomitee verwys word, die volgende reëls van toepassing is:

(i) Indien die Nasionale Vergadering ʼn Wetsontwerp beoog in subartikel (1)(g) of (h) oorweeg, kan daardie Wetsontwerp aangeneem word slegs indien ʼn meerderheid van die lede van die Vergadering ten gunste daarvan stem.

(ii) Indien die Nasionale Vergadering ʼn Wetsontwerp beoog in subartikel (1)(e), (i) of (j) oorweeg of heroorweeg, kan daardie Wetsontwerp aangeneem word slegs indien minstens twee derdes van die lede van die Vergadering ten gunste daarvan stem.

(6) Hierdie artikel is nie op Geldwetsontwerpe van toepassing nie.

Geldwetsontwerpe

  1. (1) ʼn Wetsontwerp is ʼn Geldwetsontwerp indien dit–

(a) geld bewillig;

(b) nasionale belastings, heffings, regte of bobelastings oplê;

(c) enige nasionale belastings, heffings, regte of bobelastings afskaf of verminder of vrystellings daarvan verleen; of

(d) ʼn regstreekse las teen die Nasionale Inkomstefonds magtig, behalwe ʼn Wetsontwerp beoog in artikel 214 wat ʼn regstreekse las magtig.

(2) ʼn Geldwetsontwerp mag met geen ander aangeleentheid handel nie, behalwe–

(a) ʼn ondergeskikte aangeleentheid wat verband hou met die bewilliging van geld;

(b) die oplegging, afskaffing of vermindering van nasionale belastings, heffings, regte of bobelastings;

(c) die verlening van vrystelling van nasionale belastings, heffings, regte of bobelastings; of

(d) die magtiging van ʼn regstreekse las teen die Nasionale Inkomstefonds.

(3) Alle Geldwetsontwerpe moet oorweeg word ooreenkomstig die prosedure wat deur artikel 75 voorgeskryf word. ʼn Parlementswet moet voorsiening maak vir ʼn prosedure vir die wysiging van Geldwetsontwerpe voor die Parlement.

[A. 77 vervang by a. 2 van die Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

Bemiddelingskomitee

  1. (1) Die Bemiddelingskomitee bestaan uit–

(a) nege lede van die Nasionale Vergadering deur die Vergadering verkies ooreenkomstig ʼn prosedure wat deur die reëls en orders van die Vergadering voorgeskryf word en wat tot gevolg het dat partye in wesenlik dieselfde verhouding verteenwoordig is as dié waarin die partye in die Vergadering verteenwoordig is; en

(b) een afgevaardigde uit elke provinsiale afvaardiging in die Nasionale Raad van Provinsies, deur die afvaardiging aangewys.

(2) Die Bemiddelingskomitee het ten gunste van ʼn weergawe van ʼn Wetsontwerp ooreengekom, of ʼn vraag beslis wanneer dié weergawe, of een kant van die vraag, gesteun word deur–

(a) minstens vyf van die verteenwoordigers van die Nasionale Vergadering; en

(b) minstens vyf van die verteenwoordigers van die Nasionale Raad van Provinsies.

Bekragtiging van Wetsontwerpe

  1. (1) Die President moet ʼn Wetsontwerp wat ingevolge hierdie Hoofstuk aangeneem is óf bekragtig en onderteken óf, indien die President voorbehoude omtrent die grondwetlikheid van die Wetsontwerp het, dit na die Nasionale Vergadering vir heroorweging terugverwys.

(2) Die gesamentlike reëls en orders moet voorsiening maak vir die prosedure vir die heroorweging van ʼn Wetsontwerp deur die Nasionale Vergadering en die deelname van die Nasionale Raad van Provinsies aan die proses.

(3) Die Nasionale Raad van Provinsies moet deelneem aan die heroorweging van ʼn Wetsontwerp wat die President na die Nasionale Vergadering terugverwys het indien–

(a) die President se voorbehoude omtrent die grondwetlikheid van die Wetsontwerp verband hou met ʼn prosedurele aangeleentheid waarby die Raad betrokke is; of

(b) artikel 74(1), (2) of (3)(b) of 76 by die aanname van die Wetsontwerp van toepassing was.

(4) Indien ʼn Wetsontwerp, na heroorweging, ten volle aan die President se voorbehoude voldoen, moet die President die Wetsontwerp bekragtig en onderteken; indien nie, moet die President–

(a) óf die Wetsontwerp bekragtig en onderteken;

(b) óf dit na die Konstitusionele Hof vir ʼn beslissing oor die grondwetlikheid daarvan verwys.

(5) Indien die Konstitusionele Hof beslis dat die Wetsontwerp grondwetlik is, moet die President dit bekragtig en onderteken.

Aansoek by Konstitusionele Hof deur lede van Nasionale Vergadering

  1. (1) Lede van die Nasionale Vergadering kan by die Konstitusionele Hof aansoek doen om ʼn bevel wat verklaar dat ʼn Parlementswet in die geheel of ten dele ongrondwetlik is.

(2) ʼn Aansoek–

(a) moet deur minstens een derde van die lede van die Nasionale Vergadering gesteun word; en

(b) moet gedoen word binne 30 dae vanaf die datum waarop die President die Wet bekragtig en onderteken het.

(3) Die Konstitusionele Hof kan gelas dat ʼn Wet, of ʼn gedeelte daarvan, wat die onderwerp van ʼn aansoek ingevolge subartikel (1) uitmaak, geen regskrag het nie totdat die Hof oor die aansoek beslis het, indien–

(a) dit in die belang van geregtigheid is; en

(b) die aansoek ʼn redelike vooruitsig het om te slaag.

(4) Indien ʼn aansoek nie slaag nie, en nie ʼn redelike vooruitsig gehad het om te slaag nie, kan die Konstitusionele Hof die aansoekers gelas om die koste te betaal.

Publikasie van Wette

  1. ʼn Wetsontwerp wat deur die President bekragtig en onderteken is, word ʼn Wet van die Parlement, moet onverwyld gepubliseer word, en tree in werking by die publikasie daarvan of op ʼn datum ingevolge die Wet bepaal.

Veilige bewaring van Parlementswette

  1. Die ondertekende eksemplaar van ʼn Parlementswet is afdoende bewys van die bepalings van daardie Wet en moet na die publikasie daarvan vir veilige bewaring aan die Konstitusionele Hof toevertrou word.
Lees die volledige Grondwet
Lees en laai af