fbpx

Hoofstuk 5: Die president en nasionale uitvoerende gesag

Deel Op Sosiale Media

DIE PRESIDENT EN NASIONALE UITVOERENDE GESAG

Hoofstuk 5

Die President

  1. Die President–

(a) is die Staatshoof en hoof van die nasionale uitvoerende gesag;

(b) moet die Grondwet as die hoogste reg van die Republiek handhaaf, verdedig en eerbiedig; en

(c) bevorder die eenheid van die nasie en alles wat die Republiek sal laat vooruitgaan.

Bevoegdhede en funksies van President

  1. (1) Die President het die bevoegdhede wat deur die Grondwet en wetgewing verleen word, met inbegrip van dié bevoegdhede wat nodig is om die funksies van Staatshoof en hoof van die nasionale uitvoerende gesag te verrig.

(2) Die President is verantwoordelik vir–

(a) die bekragtiging en ondertekening van Wetsontwerpe;

(b) die terugverwysing van ʼn Wetsontwerp na die Nasionale Vergadering vir heroorweging van die grondwetlikheid van die Wetsontwerp;

(c) die verwysing van ʼn Wetsontwerp na die Konstitusionele Hof vir ʼn beslissing oor die grondwetlikheid van die Wetsontwerp;

(d) die byeenroeping van die Nasionale Vergadering, die Nasionale Raad van Provinsies of die Parlement vir ʼn buitengewone sitting om spesiale werksaamhede te verrig;

(e) die doen van aanstellings wat die Grondwet of wetgewing van die President anders as in die hoedanigheid van hoof van die nasionale uitvoerende gesag vereis;

(f) die aanstelling van kommissies van ondersoek;

(g) die uitroep van ʼn nasionale referendum ingevolge ʼn Parlementswet;

(h) die ontvangs en erkenning van buitelandse diplomatieke en konsulêre verteenwoordigers;

(i) die aanstelling van ambassadeurs, gevolmagtigdes en diplomatieke en konsulêre verteenwoordigers;

(j) die begenadiging van, of die verlening van grasie aan, oortreders, en die kwytskelding van boetes, strawwe of verbeurings; en

(k) die toekenning van eerbewyse.

[Algemene Nota: Eerbewyse ingestel by afkondiging in Staatskoerant 24155 van 6 Desember 2002 en Staatskoerant 25213 van 25 Julie 2003.]

Uitvoerende gesag van die Republiek

  1. (1) Die uitvoerende gesag van die Republiek berus by die President.

(2) Die President oefen die uitvoerende gesag gesamentlik met die ander lede van die Kabinet uit, deur–

(a) nasionale wetgewing uit te voer, behalwe waar die Grondwet of ʼn Parlementswet anders bepaal;

(b) nasionale beleid te ontwikkel en uit te voer;

(c) die funksies van staatsdepartemente en -administrasies te koördineer;

(d) wetgewing op te stel en te inisieer; en

(e) enige ander uitvoerende funksie te verrig waarvoor in die Grondwet of in nasionale wetgewing voorsiening gemaak word.

Verkiesing van President

  1. (1) By sy eerste sitting na sy verkiesing, en wanneer dit ook al nodig is om ʼn vakature te vul, moet die Nasionale Vergadering ʼn vrou of ʼn man uit sy geledere as die President verkies.

(2) Die Hoofregter moet by die verkiesing van die President voorsit, of ʼn ander regter aanwys om dit te doen. Die prosedure in Deel A van Bylae 3 uiteengesit, is op die verkiesing van die President van toepassing.

[Sub-a. (2) vervang by a. 6 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

(3) ʼn Verkiesing om ʼn vakature in die amp van President te vul, moet gehou word op ʼn tyd en datum deur die Hoofregter bepaal, maar nie later nie as 30 dae nadat die vakature ontstaan.

[Sub-a. (3) vervang by a. 6 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

Aanvaarding van amp deur President

  1. Wanneer iemand as President verkies word, hou so iemand op om ʼn lid van die Nasionale Vergadering te wees, en moet so iemand die amp van President binne vyf dae aanvaar deur ooreenkomstig Bylae 2 ʼn eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet af te lê.

Ampstermyn van President

  1. (1) Die President se ampstermyn begin by ampsaanvaarding en eindig wanneer ʼn vakature ontstaan of wanneer die persoon wat volgende as President verkies word die amp aanvaar.

(2) Niemand mag die amp van President vir meer as twee ampstermyne beklee nie, maar wanneer iemand verkies word om ʼn vakature in die amp van President te vul, word die tydperk tussen daardie verkiesing en die volgende verkiesing van ʼn President nie as ʼn ampstermyn beskou nie.

Ontheffing van President

  1. (1) Die Nasionale Vergadering kan, by ʼn besluit aangeneem met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede, die President van die amp van President onthef slegs op grond van–

(a) ʼn ernstige skending van die Grondwet of die reg;

(b) ernstige wangedrag; of

(c) onvermoë om die funksies van die amp te verrig.

(2) Iemand wat ingevolge subartikel (1)(a) of (b) van die amp van President onthef is, mag geen voordele van daardie amp ontvang nie, en mag in geen openbare amp dien nie.

Waarnemende President

  1. (1) Wanneer die President uit die Republiek afwesig is of andersins nie in staat is om die pligte van die President te vervul nie, of gedurende ʼn vakature in die amp van President, neem ʼn ampsdraer in die onderstaande rangorde as President waar:

(a) Die Adjunkpresident.

(b) ʼn Minister deur die President aangewys.

(c) ʼn Minister deur die ander lede van die Kabinet aangewys.

(d) Die Speaker, totdat die Nasionale Vergadering een van sy ander lede aanwys.

(2) ‘n Waarnemende President het die verantwoordelikhede, bevoegdhede en funksies van die President.

(3) Voordat die Waarnemende President die verantwoordelikhede, bevoegdhede en funksies van die President aanvaar, moet die Waarnemende President ooreenkomstig Bylae 2 ʼn eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet aflê.

(4) Iemand wat as Waarnemende President ʼn eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek afgelê het, hoef nie die prosedure van die eed of plegtige verklaring te herhaal nie vir enige daaropvolgende termyn as waarnemende President gedurende die tydperk wat eindig wanneer die persoon wat volgende as President verkies word, die amp aanvaar.

[Sub-a. (4) bygevoeg by a. 1 van die “Constitution First Amendment Act of 1997”.]

Kabinet

  1. (1) Die Kabinet bestaan uit die President as hoof van die Kabinet, ʼn Adjunkpresident en Ministers.

(2) Die President stel die Adjunkpresident en Ministers aan, dra hulle bevoegdhede en funksies aan hulle op, en kan hulle ontslaan.

(3) Die President–

(a) moet die Adjunkpresident uit die geledere van die Nasionale Vergadering kies;

(b) kan enige getal Ministers uit die geledere van die Vergadering kies; en

(c) kan hoogstens twee Ministers van buite die Vergadering kies.

(4) Die President moet ʼn lid van die Kabinet as die leier van regeringswerksaamhede in die Nasionale Vergadering aanstel.

(5) Die Adjunkpresident moet die President in die verrigting van regeringsfunksies bystaan.

Aanspreeklikheid en verantwoordelikhede

  1. (1) Die Adjunkpresident en Ministers is verantwoordelik vir die bevoegdhede en funksies van die uitvoerende gesag wat deur die President aan hulle opgedra word.

(2) Lede van die Kabinet is gesamentlik en afsonderlik teenoor die Parlement aanspreeklik vir die uitoefening van hul bevoegdhede en die verrigting van hul funksies.

(3) Lede van die Kabinet moet–

(a) ooreenkomstig die Grondwet optree; en

(b) die Parlement voorsien van volledige en gereelde verslae oor aangeleenthede onder hulle beheer.

Adjunkministers

  1. (1) Die President kan–

(a) enige getal Adjunkministers uit die geledere van die Nasionale Vergadering aanstel; en

(b) hoogstens twee Adjunkministers van buite die Vergadering aanstel, om die lede van die Kabinet behulpsaam te wees, en kan hulle ontslaan.

(2) Adjunkministers ingevolge subartikel (1)(b) aangestel, is teenoor die Parlement aanspreeklik vir die uitoefening van hul bevoegdhede en die verrigting van hul funksies.

[A. 93 vervang by a. 7 van die Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001.]

Voortbestaan van Kabinet na verkiesings

  1. Wanneer ʼn verkiesing van die Nasionale Vergadering gehou word, bly die Kabinet, die Adjunkpresident, Ministers en enige Adjunkministers bevoeg om te funksioneer totdat die persoon wat deur die volgende Vergadering as President verkies word die amp aanvaar.

Eed of plegtige verklaring

  1. Voordat die Adjunkpresident, Ministers en enige Adjunkministers begin om hul funksies te verrig, moet hulle ooreenkomstig Bylae 2 ʼn eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet aflê.

Gedrag van Kabinetslede en Adjunkministers

  1. (1) Lede van die Kabinet en Adjunkministers moet optree ooreenkomstig ʼn etiese kode deur nasionale wetgewing voorgeskryf.

(2) Lede van die Kabinet en Adjunkministers mag nie–

(a) enige ander betaalde werk onderneem nie;

(b) optree op enige wyse wat met hul amp onbestaanbaar is, of hulself blootstel aan enige omstandigheid wat die risiko inhou van ʼn botsing tussen hul amptelike verantwoordelikhede en hul private belange nie; of

(c) hul posisie of enige inligting aan hulle toevertrou, gebruik om hulself te verryk of enige ander persoon onbehoorlik te bevoordeel nie.

Oordrag van werksaamhede

  1. Die President kan by proklamasie aan ʼn lid van die Kabinet–

(a) die administrasie oordra van enige wetgewing wat aan ʼn ander lid opgedra is; of

(b) enige bevoegdheid of funksie oordra wat by wetgewing aan ʼn ander lid opgedra is.

Tydelike opdra van funksies

  1. Die President kan aan ʼn Kabinetslid enige bevoegdheid of funksie van ʼn ander lid wat uit die amp afwesig is of nie in staat is om daardie bevoegdheid uit te oefen of daardie funksie te verrig nie, opdra.

Opdra van funksies

  1. ‘n Lid van die Kabinet kan enige bevoegdheid of funksie wat ingevolge ʼn Parlementswet uitgeoefen of verrig moet word, aan ʼn lid van ʼn provinsiale Uitvoerende Raad of ʼn Munisipale Raad opdra. ‘n Opdrag–

(a) geskied ingevolge ʼn ooreenkoms tussen die betrokke Kabinetslid en die lid van die Uitvoerende Raad of die Munisipale Raad;

(b) moet bestaanbaar wees met die Parlementswet ingevolge waarvan die betrokke bevoegdheid of funksie uitgeoefen of verrig word; en

(c) tree by proklamering deur die President in werking.

Nasionale ingryping in provinsiale administrasie

[Opskrif gewysig by a. 2(a) van die Elfde Wysigingswet op die Grondwet van 2003.]

  1. (1) Wanneer ʼn provinsie ʼn uitvoerende verpligting ingevolge die Grondwet of wetgewing nie kan nakom nie of dit nie nakom nie, kan die nasionale uitvoerende gesag ingryp deur enige gepaste stappe te doen om te verseker dat daardie verpligting nagekom word, met inbegrip van–

(a) die uitreiking van ʼn lasgewing aan die provinsiale uitvoerende gesag waarin die mate van die versuim om sy verpligtinge na te kom, beskryf word en stappe wat nodig is om sy verpligtinge na te kom, vermeld word; en

(b) die aanvaarding van verantwoordelikheid vir die betrokke verpligting in daardie provinsie in die mate wat nodig is om–

(i) noodsaaklike nasionale standaarde te handhaaf of aan gevestigde minimum standaarde vir die lewering van ʼn diens te voldoen;

(ii) ekonomiese eenheid te handhaaf;

(iii) nasionale veiligheid te handhaaf; of

(iv) te voorkom dat daardie provinsie onredelike stappe doen wat nadelig is vir die belange van ʼn ander provinsie of van die land as geheel.

[Sub-a. (1) gewysig by a. 2(b) van die Elfde Wysigingswet op die Grondwet 2003.]

(2) Indien die nasionale uitvoerende gesag ingevolge subartikel (1)(b) in ʼn provinsie ingryp, moet –

(a) hy ʼn skriftelike kennisgewing van die ingryping aan die Nasionale Raad van Provinsies voorlê binne 14 dae nadat die ingryping ʼn aanvang geneem het;

(b) die ingryping beëindig word indien die Raad die ingryping afkeur binne 180 dae nadat die ingryping ʼn aanvang geneem het of by die einde van daardie tydperk die ingryping nie goedgekeur het nie; en

(c) die Raad, terwyl die ingryping voortduur, die ingryping gereeld in hersiening neem en enige gepaste aanbevelings aan die nasionale uitvoerende gesag doen.

[Sub-a. (2) vervang by a. 2(c) van die Elfde Wysigingswet op die Grondwet van 2003.]

(3) Nasionale wetgewing kan die proses ingestel deur hierdie artikel reguleer.

[A. 100 gewysig by a. 2 van die Elfde Wysigingswet op die Grondwet van 2003.]

Uitvoerende besluite

  1. (1) ‘n Besluit van die President moet op skrif wees indien dit–

(a) ingevolge wetgewing geneem word; of

(b) regsgevolge het.

(2) ‘n Skriftelike besluit van die President moet deur ʼn ander Kabinetslid medeonderteken word indien daardie besluit ʼn funksie raak wat aan daardie ander Kabinetslid opgedra is.

(3) Proklamasies, regulasies en ander instrumente van ondergeskikte wetgewing moet vir die publiek toeganklik wees.

(4) Nasionale wetgewing kan die wyse waarop en die mate waarin instrumente in subartikel (3) genoem–

(a) in die Parlement ter tafel gelê moet word, spesifiseer; en

(b) deur die Parlement goedgekeur moet word, spesifiseer.

Voorstelle van wantroue

  1. (1) Indien die Nasionale Vergadering by ʼn besluit ten gunste waarvan ʼn meerderheid van sy lede stem ʼn voorstel van wantroue in die Kabinet, uitgesonderd die President, aanneem, moet die President die Kabinet hersaamstel.

(2) Indien die Nasionale Vergadering by ʼn besluit ten gunste waarvan ʼn meerderheid van sy lede stem ʼn voorstel van wantroue in die President aanneem, moet die President en die ander lede van die Kabinet en enige Adjunkministers bedank.

Lees die volledige Grondwet
Lees en laai af