fbpx

Hoofstuk 9: staatsinstellings ter ondersteuning van grondwetlike demokrasie

Deel Op Sosiale Media

STAATSINSTELLINGS TER ONDERSTEUNING VAN GRONDWETLIKE DEMOKRASIE

Hoofstuk 9

Instelling en bepalende beginsels

  1. (1) Die volgende staatsinstellings versterk die grondwetlike demokrasie in die Republiek:

(a) Die Openbare Beskermer.

(b) Die Menseregtekommissie.

[Par. (b) gewysig by a. 4 van die “Constitution Second Amendment Act of 1998”.]

(c) Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe.

(d) Die Kommissie vir Geslagsgelykheid.

(e) Die Ouditeur-generaal.

(f) Die Verkiesingskommissie.

(2) Hierdie instellings is onafhanklik, en slegs aan die Grondwet en die reg onderworpe, en moet onpartydig wees en hul bevoegdhede en funksies sonder vrees, begunstiging of vooroordeel uitoefen en verrig.

(3) Ander staatsorgane moet hierdie instellings deur middel van wetgewende en ander maatreëls bystaan en beskerm ten einde die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van hierdie instellings te verseker.

(4) Geen persoon of staatsorgaan mag op die funksionering van hierdie instellings inbreuk maak nie.

(5) Hierdie instellings is teenoor die Nasionale Vergadering verantwoordingspligtig, en moet minstens een keer per jaar oor hul bedrywighede en die verrigting van hul funksies aan die Vergadering verslag doen.

Openbare Beskermer

Funksies van Openbare Beskermer

  1. (1) Die Openbare Beskermer het die bevoegdheid, soos deur nasionale wetgewing gereguleer–

(a) om ondersoek in te stel na enige optrede in staatsake, of in die openbare administrasie in enige regeringsfeer, wat, na beweer of vermoed word, onbehoorlik is of enige onbehoorlikheid of benadeling tot gevolg het;

(b) om oor dié optrede verslag te doen; en

(c) om gepaste regstellende stappe te doen.

(2) Die Openbare Beskermer het die bykomende bevoegdhede en funksies wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

(3) Die Openbare Beskermer mag nie hofbeslissings ondersoek nie.

(4) Die Openbare Beskermer moet vir alle persone en gemeenskappe toeganklik wees.

(5) Enige verslag deur die Openbare Beskermer uitgereik, moet vir die publiek toeganklik wees, tensy buitengewone omstandighede wat ingevolge nasionale wetgewing bepaal moet word vereis dat ʼn verslag vertroulik gehou word.

Ampstermyn

  1. Die Openbare Beskermer word vir ʼn nieherhaalbare termyn van sewe jaar aangestel.

Menseregtekommissie

Funksies van Menseregtekommissie

  1. (1) Die Menseregtekommissie moet–

(a) respek vir menseregte en ʼn kultuur van menseregte bevorder;

(b) die beskerming, ontwikkeling en verwesenliking van menseregte bevorder; en

(c) die handhawing van menseregte in die Republiek monitor en die stand daarvan bepaal.

(2) Die Menseregtekommissie het die bevoegdhede, soos deur nasionale wetgewing gereguleer, wat nodig is om sy funksies te verrig, met inbegrip van die bevoegdheid–

(a) om ondersoek in te stel na en verslag te doen oor die handhawing van menseregte;

(b) om stappe te doen ten einde gepaste herstel te verseker waar menseregte geskend is;

(c) om navorsing te doen; en

(d) om op te voed.

(3) Die Menseregtekommissie moet jaarliks van enige betrokke staatsorgane vereis om die Kommissie te voorsien van inligting oor die maatreëls wat hulle getref het ter verwesenliking van die regte in die Handves van Regte betreffende behuising, gesondheidsorg, voedsel, water, maatskaplike sekerheid, die onderwys en die omgewing.

(4) Die Menseregtekommissie het die bykomende bevoegdhede en funksies wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

[A. 184 gewysig by a. 4 van die “Constitution Second Amendment Act of 1998”.]

Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe

Funksies van Kommissie

  1. (1) Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe het die volgende hoofoogmerke:

(a) Om respek te bevorder vir die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe;

(b) om vrede, vriendskap, menslikheid, verdraagsaamheid en nasionale eenheid onder kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe op die grondslag van gelykheid, niediskriminasie en vrye assosiasie te bevorder en te ontwikkel; en

(c) om die instelling of erkenning, ooreenkomstig nasionale wetgewing, van ʼn kultuur- of ander raad of rade vir ʼn gemeenskap of gemeenskappe in SuidAfrika aan te beveel.

(2) Die Kommissie het die bevoegdheid, soos deur nasionale wetgewing gereguleer, wat nodig is om sy hoofoogmerke te bereik, met inbegrip van die bevoegdheid om kwessies betreffende die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe te monitor, te ondersoek, na te vors, opvoeding daaroor te voorsien, steun daarvoor te werf, daaroor te adviseer en verslag daaroor te doen.

(3) Die Kommissie kan enige aangeleentheid wat binne sy bevoegdhede en funksies val aan die Menseregtekommissie vir ondersoek rapporteer.

[Sub-a. (3) gewysig by a. 4 van die “Constitution Second Amendment Act of 1998”.]

(4) Die Kommissie het die bykomende bevoegdhede en funksies wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

Samestelling van Kommissie

  1. (1) Die getal lede van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe en hul aanstelling en ampstermyne moet deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

(2) Die samestelling van die Kommissie moet–

(a) in die breë verteenwoordigend wees van die vernaamste kultuur-, godsdiensen taalgemeenskappe in Suid-Afrika; en

(b) in die breë die geslagsamestelling van Suid-Afrika weerspieël.

Kommissie vir Geslagsgelykheid

Funksies van Kommissie vir Geslagsgelykheid

  1. (1) Die Kommissie vir Geslagsgelykheid moet respek vir geslagsgelykheid en die beskerming, ontwikkeling en verwesenliking van geslagsgelykheid bevorder.

(2) Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het die bevoegdheid, soos deur nasionale wetgewing gereguleer, wat nodig is om sy funksies te verrig, met inbegrip van die bevoegdheid om aangeleenthede betreffende geslagsgelykheid te monitor, te ondersoek, na te vors, opvoeding daaroor te voorsien, steun daarvoor te werf, daaroor te adviseer en verslag daaroor te doen.

(3) Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het die bykomende bevoegdhede en funksies wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

Ouditeur-generaal

Werksaamhede van Ouditeur-generaal

  1. (1) Die Ouditeur-generaal moet die rekenings, finansiële state en finansiële bestuur van die volgende instellings en instansies ouditeer en daaroor verslag doen:

(a) Alle nasionale en provinsiale staatsdepartemente en -administrasies;

(b) alle munisipaliteite; en

(c) enige ander instelling of rekenpligtige instansie wat ingevolge nasionale of provinsiale wetgewing deur die Ouditeur-generaal geouditeer moet word.

(2) Benewens die pligte in subartikel (1) voorgeskryf, en behoudens enige wetgewing, kan die Ouditeur-generaal die rekenings, finansiële state en finansiële bestuur van enige van die volgende instellings ouditeer en daaroor verslag doen:

(a) Enige instelling wat uit die Nasionale Inkomstefonds of ʼn Provinsiale Inkomstefonds of deur ʼn munisipaliteit gefinansier word; of

(b) enige instelling wat ingevolge enige wet gemagtig is om geld vir ʼn openbare doel te ontvang.

(3) Die Ouditeur-generaal moet ouditverslae voorlê aan enige wetgewer wat ʼn regstreekse belang in die oudit het, en aan enige ander gesag wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word. Alle verslae moet openbaar gemaak word.

(4) Die Ouditeur-generaal het die bykomende bevoegdhede en funksies wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

Ampstermyn

  1. Die Ouditeur-generaal word vir ʼn vaste, nieherhaalbare termyn van tussen vyf en tien jaar aangestel.

Verkiesingskommissie

Funksies van Verkiesingskommissie

  1. (1) Die Verkiesingskommissie moet–

(a) verkiesings van nasionale, provinsiale en munisipale wetgewende liggame ooreenkomstig nasionale wetgewing bestuur;

(b) toesien dat die verkiesings vry en regverdig is; en

(c) die uitslae van dié verkiesings bekend maak binne ʼn tydperk wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf moet word en so kort as redelikerwys moontlik moet wees.

(2) Die Verkiesingskommissie het die bykomende bevoegdhede en funksies wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

Samestelling van Verkiesingskommissie

  1. Die Verkiesingskommissie bestaan uit minstens drie persone. Die getal lede en hul ampstermyne moet deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

Onafhanklike Owerheid om die Uitsaaiwese te Reguleer

Uitsaai-owerheid

  1. ‘n Onafhanklike owerheid moet deur nasionale wetgewing ingestel word om die uitsaaiwese in die openbare belang te reguleer en om toe te sien dat regverdigheid geskied en ʼn verskeidenheid van sienswyses aangebied word wat in die breë verteenwoordigend van die Suid-Afrikaanse samelewing is.

Algemene Bepalings

Aanstellings

  1. (1) Die Openbare Beskermer en die lede van enige Kommissie deur hierdie Hoofstuk ingestel, moet vroue of mans wees wat–

(a) Suid-Afrikaanse burgers is;

(b) geskikte en gepaste persone is om die bepaalde amp te beklee; en

(c) voldoen aan enige ander vereistes wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.

(2) Die behoefte dat ʼn Kommissie wat deur hierdie Hoofstuk ingestel word, in die breë die rasse- en geslagsamestelling van Suid-Afrika weerspieël, moet by die aanstelling van lede in aanmerking geneem word.

(3) Die Ouditeur-generaal moet ʼn vrou of ʼn man wees wat ʼn Suid-Afrikaanse burger en ʼn geskikte en gepaste persoon is om die amp te beklee. By die aanstelling van die Ouditeur-generaal moet gespesialiseerde kennis of ervaring van ouditering, staatsfinansies en die openbare administrasie behoorlik in aanmerking geneem word.

(4) Die President moet die Openbare Beskermer, die Ouditeur-generaal en die lede van–

(a) die Menseregtekommissie;

(b) die Kommissie vir Geslagsgelykheid; en

(c) die Verkiesingskommissie, op aanbeveling van die Nasionale Vergadering aanstel.

(5) Die Nasionale Vergadering moet persone aanbeveel wat–

(a) benoem is deur ʼn komitee van die Vergadering wat proporsioneel saamgestel is uit lede van alle partye wat in die Vergadering verteenwoordig is; en

(b) deur die Vergadering goedgekeur is by ʼn besluit aangeneem met ʼn ondersteunende stem van–

(i) minstens 60 persent van die lede van die Vergadering, indien die aanbeveling betrekking het op die aanstelling van die Openbare Beskermer of die Ouditeur-generaal; of

(ii) ʼn meerderheid van die lede van die Vergadering, indien die aanbeveling betrekking het op die aanstelling van ʼn lid van ʼn Kommissie.

(6) Daar kan vir die betrokkenheid van die burgerlike gemeenskap in die aanbevelingsproses voorsiening gemaak word soos in artikel 59(1)(a) beoog.

Ampsontheffing

  1. (1) Die Openbare Beskermer, die Ouditeur-generaal of ʼn lid van ʼn Kommissie deur hierdie Hoofstuk ingestel, kan van die amp onthef word slegs op grond van–

(a) wangedrag, onvermoë of onbekwaamheid;

(b) ʼn bevinding te dien effekte deur ʼn komitee van die Nasionale Vergadering; en

(c) ʼn besluit van die Vergadering waarin gevra word dat die persoon van die amp onthef word.

(2) ‘n Besluit van die Nasionale Vergadering oor die ampsontheffing van–

(a) die Openbare Beskermer of die Ouditeur-generaal moet aangeneem word met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van die lede van die Vergadering; of

(b) ʼn lid van ʼn Kommissie moet aangeneem word met ʼn ondersteunende stem van ʼn meerderheid van die lede van die Vergadering.

(3) Die President–

(a) kan te eniger tyd na die aanvang van die verrigtinge van ʼn Komitee van die Nasionale Vergadering vir die ontheffing van ʼn persoon daardie persoon in die amp skors; en

(b) moet ʼn persoon van die amp onthef by aanname deur die Vergadering van die besluit waarin gevra word dat dié persoon van die amp onthef word.

Lees die volledige Grondwet
Lees en laai af